Foto ter illustrasie/Namport
Foto ter illustrasie/Namport

Kommer oor impak van skepe se herstelwerk op omgewing

Vergadering sal Woensdag plaasvind
Inwoners en besighede op Walvisbaai is bekommerd oor die negatiewe impak wat die bedrywighede op die omliggende omgewing kan hê.
Adam Hartman
Ná kommer uitgespreek is oor die impak van skeepsherstelwerk by die Walvisbaai-hawe se Syncrolift, is ’n vergadering vir Woensdag belê.

Die kommer gaan hoofsaaklik oor die stofverspreiding en spuitverf wat tydens die skuur- en spuitverfwerk gegenereer word.

’n Verslag van Geo Pollution Technologies (GPT) oor die monitering van korttermyn-stofverspreiding sal tydens die vergadering hersien word.

Bevindinge van dié studie en moontlike oplossings vir die verbetering van skiet- en verfbedrywighede sal bespreek word.

Bedryfsverteenwoordigers, omgewingsbewustes en regulatoriese owerhede sal na verwagting die vergadering bywoon om te verseker dat maatreëls geïmplementeer word om die impak van hierdie aktiwiteite op die omliggende omgewing en gemeenskap te versag.



STUDIE

Belanghebbendes sal ook kyk na verskillende versagtingsmetodes wat in die studie vervat is.

Luidens die assesseringsverslag kan skuurskietwerk (abrasive blasting) – wat algemeen gebruik word om mariene groei en ou verf van skeepsrompe (hulls) te verwyder – groot hoeveelhede stof genereer.

Inwoners en besighede is bekommerd oor die ligging van die bedrywighede en die verspreiding van stof wat ’n negatiewe impak op die omliggende omgewing kan hê.

Luidens die verslag is GPT se studie in verskillende weerstoestande gedoen, aangesien windspoed en -rigting ’n groot rol speel in hoe stof- en verfdeeltjies versprei.

Drie skietmetodes is geïdentifiseer as moontlik lewensvatbare oplossings om die impak op omliggende gebiede te versag.

Bykomende inperkingstrategieë – soos volledig toegemaakte mandjies en nette – is ook oorweeg, maar as onprakties beskou.

Volgens die studie word die verspreding van stof vererger wanneer skietpunte opwaarts eerder as afwaarts gerig word.

“Spuitverf kan tot 100 meter van die terrein af beweeg,” het die studie bevind.



AANBEVELINGS

Op grond van die ontleding het GPT verskeie aanbevelings gemaak om omgewings- en gesondheidsimpakte te verminder.

“Skietwerk moet nie uitgevoer word wanneer windsnelhede 40 km/h oorskry nie en bedrywighede moet soveel as moontlik onder kalmer toestande plaasvind.”

Daarbenewens moet die perseel gereeld skoongemaak word om stofophoping te voorkom wat deur wind geskep en weggewaai kan word.

Ander stappe wat oorweeg kan word, is die gebruik van ’n metode genaamd dampblaas (vapour blasting). Dit is geïdentifiseer as die doeltreffendste metode vir stofvermindering.

Hierdie metode verminder lugdeeltjies meer as tradisionele droëskuur-skietwerk (dry grit blasting).

“Om die invloed van heersende suid-suidwestelike winde teë te werk, word die installering van windskerms aanbeveel.

“Hierdie strukture kan help om die windspoed te verminder en onstuimige lugvloei te versag.”

Die studie toon verder dat bykomende beskermingsmaatreëls ook oorweeg moet word, veral in gebiede met sterker windtoestande.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer