Lugvaart op soek na herlewing

Forum vir November beplan
Dr. Leake Hangala doen 'n beroep op die herlewing van Air Namibia, terwyl die NAC plaaslike ludrederye 'n hupstoot wil gee.
Augetto Graig
Die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) en hoofborg Bank Windhoek sal vanaf 16 tot 18 November die Namibië Lugvaart- en Verbindingsforum aanbied om die bedryf in Namibië te laat herleef.

Dit nadat verskeie faktore soos onder meer Covid-19, stygende brandstofpryse en moeilike ekonomiese omstandighede verlede jaar tot die nasionale lugredery Air Namibië se ondergang gelei het.

Dié aankondiging is gister by ’n deftige geleentheid by die Windhoek Buitekluboord gemaak.

Die uitvoerende hoof van die NAC, mnr. Bisey /Uirab, het gesê Air Namibia was net een van die plaaslike slagoffers in die plaaslike lugvaartbedryf, maar dat oorlewing ononderhandelbaar is.

Die forum sal ’n padkaart ontwikkel om dié bedryf te laat herleef.

’n Deurlopende stroom van opgeleide mense sal onder meer gevestig word. Verder sal beleggingsgeleenthede uitgelig word en ’n dokument sal saamgestel word om die nodige beleid en tegniese veranderinge uit te stippel.

Op sy beurt het die voorsitter van die NAC-raad, dr. Leake Hangala, gesê die ondergang van Air Namibia was een van die mees verwoestende gebeurtenisse in die sektor.

“Die lugredery se ondergang het daartoe gelei dat ’n aantal van ons mense hul werk verloor het, en dat die land sy nasionale vlagdraer kwyt is. Wat ook al die redes is, nasionale vlagdraers ontlok emosies en nasionale trots,” dring hy aan.

“’n Mens wonder hoekom lande soos Uganda, Zambië en Malawi wat almal gedink het dit maak nie kommersieel sin om nasionale vervoerders te hê nie, hulle nou terugbring. Die verlies aan Air Namibia het ook gelei tot die verlies aan binnelandse mededinging.

“Ek doen dus ’n beroep op hierdie forum om te kyk hoe ons ’n nasionale lugdiens kan terugbring, wat op so ’n wyse verpak is dat dit finansieel lewensvatbaar, operasioneel doeltreffend is, en wat sal bydra tot binnelandse en streekmededinging en sodoende verbruikers ’n keuse sal gee,” het hy gesê.

Die besturende direkteur van Bank Windhoek, me. Beronice Hans, het gesê die enigste plaaslike kommersiële bank wat ten volle deur Namibiërs besit word, en vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier, is toegewy om die vonk te bied wat ’n nuwe era in Namibiese lugvaart kan laat vlam vat.

“Lugvaart is ’n bydraer tot die land se lewenskragtigheid en deel van ’n ingewikkelde ekostelsel,” sê sy.

’n Gasspreker mnr. Tim Harris van Consulum, ’n regeringsadviseur, het sy ervaring met die vestiging van die lugtoegangsprojek in Kaapstad gedeel en insette oor die ontwikkeling van winsgewende roetes gelewer.

Hy is beïndruk met Namibië as bestemming, maar sê ’n gebrek aan selfvertroue onder Namibiërs en die verbinding tussen belanghebbers, belemmer lugvaartontwikkeling in die land.

“Die oplossing is ’n gesamentlike projek,” het hy gesê.

Consulum sal sagteware aan NAC voorsien om data oor lugvaart in Namibië in te samel, volgens /Uirab, terwyl Harris daarop aandring dat data uiters belangrik is om roetebeplanners wêreldwyd te oortuig om Namibië op vliegroetes in te sluit.

Mnr. Mark Dawe, uitvoerende hoof van B2Gold se Otjikoto-goudmyn, en president van die Vliegtuigeienaars en Vlieëniers Vereniging (APOA) het geen doekies omgedraai nie.

“Kom ons hou ’n eerlike gesprek oor wat fout is met lugvaart in Namibië,” het hy gevra moet by die forum plaasvind.

Die groot kwessie is volgens hom oorregulering.

“Dit is waar ons misluk,” sê hy.

Dit belemmer die ontwikkeling van die 15 klein plaaslike lugvaartmaatskappye wat worstel om te oorleef.

“Daar is ’n probleem hier in Afrika,” voeg hy by,” en dit is verbindings,” het hy gesê.

Hy het ook die NAC aangemoedig om op klein besonderhede te fokus, soos die vriendelikheid van beamptes by aankoms by lughawens, en bagasietrollies se wiele wat nie werk nie.

“Eerste indrukke is belangrik,” dring hy aan.

As deel van die program het mnr. Rodger Foster virtueel gepraat oor hoe hy vir 30 jaar Airlink lei en die grootste lugvaartnetwerk in Suider-Afrika se oorlewing verseker het, voor die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, amptelik die voorbereiding vir die komende forum bekend gemaak het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!