Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) was die inflasiekoers vir petrol en diesel verlede April 10,3%. Twaalf maande later was die koers 47,7%. Foto Unsplash/Dawn McDonald
Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) was die inflasiekoers vir petrol en diesel verlede April 10,3%. Twaalf maande later was die koers 47,7%. Foto Unsplash/Dawn McDonald

Nóg olie op brandstofvuur

Diesel 63% duurder as ‘n jaar gelede
Was dit nie vir die heffingverligting wat die ministerie van myne en energie in Mei vir drie maande geïmplementeer het nie, sou Junie se prysstygings nóg hoër gewees het.
Jo-Maré Duddy en Phillepus Uusiku – Woensdag se nuwe rekordhoë petrol- en dieselpryse beteken motoriste gaan tussen bykans N$300 en N$600 méér vir ‘n tenk brandstof betaal as ‘n jaar gelede.

Nóg duurder brandstof was die enigste uitweg, het die adjunkminister van myne en energie, Kornelia Shilunga, gister gesê toe sy die prysstygings van N$2,50 per liter petrol en N$1,50 per liter diesel aangekondig het.

Dié verhogings sal die Nasionale Energiefonds (NEF) help om onderverhalings te dek en sorg dat daar voldoende brandstof in die land is, luidens Shilunga. Die NEF het Mei se totale onderverhaling van sowat N$179 miljoen namens die verbruiker gedra.

Die jongste stygings – die vierde tot dusver vanjaar – beteken die dieselprys in Namibië het die afgelope jaar met 62,6% gestyg, van N$13,18/l tot N$21,43/l aan die kus. Die petrolprys het met 55% van N$13,15/l tot N$20,40/l op Walvisbaai verhoog.

Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) was die inflasiekoers vir petrol en diesel verlede April 10,3%. Twaalf maande later was die koers 47,7%.

Om ‘n sedanmotor met ‘n 40-litertenk verlede Junie aan die kus te vul, het N$526 gekos. Môre gaan dit N$816 wees. Om 70 liter diesel in ‘n bakkie te tap, het N$922,60 gekos. Môre gaan jy N$1 500,10 opdok.

VERBRUIKERS

Die hoë prysstygings is baie slegte nuus vir verbruikers, het Robert McGregor, ekonoom van Cirrus Capital, gister gesê.

Hy stem saam met Shilunga, wat tydens die nuuskonferensie gesê het die regering het geen beheer oor verwikkelinge in internasionale markte nie. Die regering het net ‘n sê oor plaaslike heffings, belasting en marges rakende die brandstofprys.

“Die brandstofprysstygings word deur gebeure buite Namibië se onmiddellike beheer aangevuur,” sê McGregor.

Die internasionale olieprys in Amerikaanse dollar was in Mei gemiddeld sowat 5,1% hoër as die vorige maand. In Suid-Afrikaanse rand was dit egter gemiddeld 11,1% duurder. Die swakker rand dra dus grootliks die skuld vir die jongste prysverhogings, aldus McGregor.

Was dit nie vir die heffingverligting wat die ministerie in Mei vir drie maande geïmplementeer het nie, sou Junie se prysstygings nóg hoër gewees het, het hy bygevoeg.

PRYSMONSTER

Brandstof dra ‘n direkte gewig van 5,01% in Namibië se verbruikersmandjie. Die nuwe stygings sal algehele inflasie aanvuur. Druk sal toeneem om tariewe vir openbare vervoer te verhoog en besighede sal die hoër insetkoste van goedere en dienste gedeeltelik op die verbruiker afskuif.

Dié prysstygings sal lae-inkomste huishoudings erger as hoë-inkomste huishoudings tref, sê McGregor.

Volgens Shilunga bly die internasionale oliemark onstuimig – nie net weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne nie, maar ook omdat die wêreld se raffineringskapasiteit sedert 2020 vanweë Covid-19 aansienlik verminder het. Intussen styg die wêreldvraag na olie.

Die Europese Unie (EU) se voorgestelde sanksiepakket teen Rusland, wat olie-invoere binne ses maande verban, maak markte ook senuagtig. Hoewel die EU-maatreëls nog nie aanvaar is nie, “vuur sulke uitlatings vrese van ‘n aanbodkrisis in die globale oliemark aan”, het Shilunga gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!