Oudwerkers van Air Namibia is radeloos

Slagoffers van die nasionale lugredery se likwidasie
Betogers het vanaf Maandagaand kamp opgeslaan voor die geslote deure van die voormalige nasionale lugredery,
Augetto Graig
“Dit is amper asof ons trauma deur die volk gevier word. Niemand ondersteun ons werklik nie.”

Dit volgens ’n voormalige instrukteur en lugwaardin van Air Namibia, me. Chileen Kazombiaze.

Voormalige werknemers van Air Namibia het vanaf Maandagaand kamp opgeslaan voor die geslote deure van die nasionale lugredery wat in Februarie 2021 gesluit en in Maart dieselfde jaar amptelik gelikwideer is.

Ongeveer 650 werknemers is werkloos gelaat. Dié werknemers eis hul skeidingspakkette wat steeds nie ten volle uitbetaal is nie.

Talle van hulle het sedertdien hul huise en besittings verloor, het terugslae in hul gesondheid ervaar en ly aan trauma sedert hul status as broodwinners weggeruk is, volgens Kazombiaze.

Die Windhoekse burgemeester, me. Sade Gawanas, self ook ʼn voormalige lugwaardin by Air Namibia, en mnr. Michael Amushelelo van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), het die groep gister besoek.

“Ek kom uit ʼn matig tot erge depressie,” sê Kazombiaze.

Sy sê haar kollegas slaap nou onder ’n afdak oorkant Air Namibia se ou hoofkantoor in die hoofstad.

“Vroue slaap in ’n tent! Ons veg vir diegene wat stilgemaak is. Ons het kollegas wat dood is. Ons het kollegas in hospitale, omdat hulle dit nie kan hanteer nie. Hulle was nie sterk genoeg om te veg nie,” sê sy.

“Die feit dat die regering beweer hulle gee vir die volk om, maar hulle is nêrens nie. Waar is hulle? Ons is Namibiërs. Ons het vir die nasionale lugredery gewerk. Ek was ’n lugwaardin. Ek was ’n venster tot die wêreld. Ek het die Namibiese volk in die buiteland verteenwoordig. Ek moes myself op ’n sekere manier gedra. Ek moes op ’n sekere manier praat, sodat ek hierdie land kon verteenwoordig. Waar is die mense wat veronderstel is om vir ons te veg? Diegene wat ons moet oplig en help om weer op die regte pad te kom. Waar is hulle?” wou sy weet.

Gawanas het saam met Kazombiaze gestem.

“Soos Chileen so reg sê, ons het die Namibiese vlag verteenwoordig,” sê sy.

Volgens nog ’n voormalige werknemer, me. Alta Hill, neem die groep beurte om te verseker die kamp is altyd beman, en ook om ruskans vir mekaar te gee. Dit terwyl diegene wat gelukkig genoeg was om intussen ander werk te kry, die groep met kos en ander benodighede ondersteun.

“Ons soek net ons geld. Ons hoor die likwidateurs het ons uitbetaling verminder, maar niemand praat direk met ons nie. Ons wag al so lank, maar die owerhede wil ons net nie sien nie,” sê sy.

Die groep is dankbaar aan die eienaar van die gebou wat sy afdak aan hulle beskikbaar gestel het en wat elektrisiteit en toiletgeriewe aan die groep verskaf.

Amptenare van die likwidateurs in beheer van die Air Namibia-gebou het die voormalige werkers toegang tot die toilette daar geweier, sê Hill.

Vyf maande gelede het parlementslid mnr. Jan van Wyk die groep gehelp om die adjunkminister van finansies, me. Maureen Hinda, te besoek.

Hulle het die ministerie van finansies se hulp gevra om onder andere hul uitstaande betaling te vergemaklik. Volgens Van Wyk het die ministerie aandag gegee aan belastingaftrekkings waaroor die groep ook ontevrede was. Daar is aan hom gesê die belastinggeld behoort teen die einde van hierdie maand terugbetaal te word, sê Van Wyk.

Die groep se woordvoerder, mnr. Renier Bougard, het bevestig dat van die werknemers reeds die belastinggeld ontvang het, maar sê, “verder het absoluut niks verander nie. Ons kry geen terugvoering nie”.

Ook hul versoek om die minister van finansies te ontmoet, word nou al meer as 20 maande geïgnoreer, sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!