TransNamib beweer sabotasie

Die staatsonderneming vir spoorvervoer is in die greep van 'n landwye staking.
Augetto Graig
TransNamib se bestuur beweer dat stakende lede van die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau) reëls met betrekking tot die voortdurende landswye staking oortree en selfs spoorwaens saboteer.

Die Namibiese polisie het in sy naweekmisdaadverslag ’n voorval van kwaadwillige eiendomskade by TransNamib se perseel in Walvisbaai aangemeld.

Onbekende verdagtes het Vrydag omstreeks 11:20 drie tenkwaens se vakuumpype oopgesny. Skade ten koste van N$330 000 is aangerig en die trein kon nie beweeg nie.

TransNamib het Vrydag beweer dat niestakende werkers geteiken word. Hulle word na bewering deur stakers en Natau-amptenare geteister en geïntimideer.

“Die bestuur sal elke maatreël tref om ons werkers te beskerm en het die Namibiese polisie betrek om hierdie onwettige gedrag te bestuur,” lui Vrydag se vrystelling.

Bykomende voorvalle van sabotasie op Keetmanshoop, Tsumeb en Windhoek is gister deur TransNamib uitgewys.

“Die bestuur is in besit van onweerlegbare bewyse van intimidasie deur Natau-amptenare en stakers teen die niestakende werkers. Die stakers en Natau-amptenare het die stakingsreëls oortree deur TransNamib se persele te betree en werkende personeel te dreig, wat hulle onveilig in hul werksomgewing laat voel.

“Hierbenewens het dade van sabotasie en opsetlike saakbeskadiging ook plaasgevind, met stakers wat maatskappytoerusting beskadig en sodoende die lewens van niestakende werknemers in gevaar stel.

“Die boelie- en intimidasietaktiek is so erg dat TransNamib die Namibiese polisie in Keetmanshoop, Tsumeb, Walvisbaai en Windhoek vir bystand moes inroep om die teistering te stop.

“Strafregtelike klagte is reeds aanhangig gemaak teen diegene wat vir die skade verantwoordelik is,” lui TransNamib se nuutste vrystelling.

Volgens TransNamib se woordvoerder, me. Abigail Raubenheimer, kan die spoormaatskappy steeds op al hul roetes treine laat loop, maar nie ewe gereeld as die normale skedule nie.

GROOT VERLIESE

Sy het in Vrydag se vrystelling die maatskappy se finansies uiteengesit. Tussen 2010 en 2017 het TransNamib ’n verlies van meer as N$4 miljard gely.

In dieselfde tydperk is salarisverhogings van tussen 6% en 10% jaarliks aangebied, ondanks salarisbetalings van tot 80% van die maatskappy se inkomste, sê sy.

Die laaste verhoging was in 2019, toe die maatskappy ingestem het om behuisingstoelae te verhoog. Die beleid dat permanente werkers tussen 10% en 30% van hul salaris as toelaag geniet, het die maatskappy se behuisingsuitgawes verdubbel, sê sy.

“Bykomend kry betrokke werknemers jaarlikse aanpassings, op die herdenking van hul indiensneming,” sê sy.

Die staking het laas week Woensdag afgeskop, kort nadat die raadsvoorsitter, mnr. Lionel Matthews en sy adjunk, me. Sigrid Tjijorokisa, albei bedankingsbriewe by die waarnemende minister van staatsondernemings en minister van finansies ingedien het.

Die waarnemende hoofsekretaris van Natau, me. Narina Pollman, was steeds in vergadering met hul prokureurs en kon nie teen druktyd enige kommentaar lewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!