transnamib
transnamib

TransNamib lag dreigemente van likwidasie af

Wil 33 lokomotiewe opknap, tien aanskaf
Ná Air Namibia se likwidasie het die Belgiese maatskappy Challenge Air nou sy visier op TransNamib gerig om die geld wat aan hom verskuldig is, in te vorder.
Ogone Tlhage
TransNamib sê hy is min gepla oor die Belgiese entiteit Challenge Air se eis van N$161 miljoen vir die huur van ‘n vliegtuig deur Air Namibia – destyds ‘n filiaal van die nasionale spoorweg-staatsonderneming.

Ná Air Namibia se likwidasie het Challenge Air nou sy visier op TransNamib gerig om die geld wat hy verskuldig is, in te vorder.

“By TransNamib gaan ons glad nie ag slaan hierop nie, want ons was nie deel van hierdie saak nie. Ons sal onsself op die mees gepaste manier verdedig as ons moet,” het mnr. Johnny Smith, die uitvoerende hoof, in ‘n onlangse onderhoud op ons susterkoerant Namibian Sun se nuusprogram Evening Review gesê.

Mnr. Sisa Namandje, Challenge Air se regsverteenwoordiger, het onlangs ‘n aanmaningsbrief aan TransNamib oorhandig om ’n betaling van N$161 miljoen te eis.

“Hierdie brief dien gevolglik as ‘n eis . . . van betaling van die totale uitstaande bedrag, wat tans op 9 863 053,04 euro staan, binne 15 dae ná ontvangs van hierdie aanmaningsbrief. Die versuim om dit te doen sal tot gevolg hê dat u geag sal word as nie in staat om u skuld te betaal in ooreenstemming met bogenoemde afdeling van die maatskappywet nie, en sal ons voortgaan met ‘n aansoek in die hoërhof vir ‘n bevel wat vir die likwidasie van TransNamib vra,” het Namandje geskryf.

BOEING-SAGE

Air Namibia was ‘n TransNamib-filiaal in die laat 1990’s toe die lugredery ‘n huurkontrak met die Belgiese maatskappy aangegaan het.

Die maatskappy is ongeveer N$161 miljoen verskuldig vir die huur van ‘n Boeing 767 wat Air Namibia in 1998 ontvang het. Die redery het egter die vliegtuig teruggestuur en sekere defekte wat opgemerk is as rede hiervoor aangevoer.

Air Namibia het in 1997 deel geword van TransNamib toe die spoorweg-onderneming geherstruktureer is.

Die twee maatskappye het in 1998 weer geskei, met Air Namibia wat die verantwoordelikheid gekry het om die regering se kommersiële lugvaartbedrywighede te bestuur terwyl TransNamib die spoorweë sou bedryf.

LENINGSPAKKET

Smith het ook na die onlangse leningspakket van N$2,6 miljard wat TransNamib van die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika (DBSA) en die Ontwikkelingsbank van Namibië verkry het, verwys.

Volgens hom beoog die maatskappy om die grootste deel van die geld te gebruik om 33 van sy ou lokomotiewe op te knap en verder nog tien aan te skaf.

“Meer as N$2 miljard is hoofsaaklik vir spoorwegvoertuie geoormerk. Ons sal sowat 33 van ons ou lokomotiewe moet regmaak en opknap en dan gaan ons ook sowat tien lokomotiewe oor die volgende drie jaar aanskaf,” het hy gesê.

“Ons het 'n aansienlike agterstand in terme van instandhouding . . . hierdie finansiering gaan ons daardie hupstoot gee om op die belangrikste deel van ons besigheid te fokus; wat die spoorwegvoertuie, lokomotiewe en waens is,” het Smith gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!