Foto ter illustrasie Namport
Foto ter illustrasie Namport

Byvangste plaas visbronne in gevaar

Ministerie spreek kommer uit
Massiewe volumes stokvis, maasbanker en sardyne word as byvangste aangemeld.
Ellanie Smit
Die kommerwekkende neiging van die massiewe volume byvangste van stokvis, maasbanker en sardyne wat in die visbedryf gevang word, dui glo daarop dat dit moontlik doelbewus is en vir hul ekonomiese waarde geteiken word.

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het vroeër vandeesmaand ’n vergadering met rolspelers in die bedryf byeengeroep om die kommerwekkende volumes byvangste wat gerapporteer is, te bespreek. ’n Uitnodiging is aan belanghebbendes gerig vir hul raadpleging oor die kwessie.

"Onlangse statistieke toon dat regtehouers vir stokvis hoër maasbanker as byvangste het, terwyl regtehouers vir maasbanker hoër stokvis-byvangste het. Dit is ’n kommerwekkende situasie," het die visseryeministerie opgemerk.

Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur, Annely Haiphene, is sardyne een van die visspesies wat dikwels as byvangste gevang word.

Daar bestaan steeds kommer oor die gesonde stand van die sardyn-hulpbron wat nog nie na ’n biologies volhoubare toestand teruggekeer het nie.

"Ons is bekommerd, die volume sardyn wat die bedryf vang, is te hoog," het sy gesê en bygevoeg dat daar ook ’n negatiewe impak kan wees op ander visspesies wat kommersieel gevang mag word soos stokvis en maasbanker.



VOLHOUBAARHEID BEDREIG

“Ons het 'n totale toelaatbare vangs wat goedgekeur word om in die visvangseisoen gevang te word. As die maasbankermaatskappye baie byvangste stokvis vang, dan oorskry dit die toelaatbare totaal wat dan die volhoubaarheid van die hulpbron in gedrang bring."

Sy het gesê daar is reeds heffings wat betaal moet word wanneer byvangste gevang word, maar ná konsultasies met die bedryf sal die ministerie die situasie verder monitor en as hierdie hoë byvangste van sardyn voortduur, sal die ministerie dan verdere strafmaatreëls instel.

MFV Komesho het glo die hoogste sardynbyvangs vir die maasbankerseisoen van 2024 aangeteken, met 'n verstommende 7 054 metrieke ton. Die tweede hoogste byvangs van sardyne was Tutugeni met 1 193 metrieke ton.

Volgens bronne in die visserybedryf is die waarde van hierdie sardynbyvangste ongeveer N$100 miljoen teen die huidige koers van N$15/kg.

Volgens die voorlegging wat die ministerie by die vergadering gemaak het, was die totale toelaatbare vangs vir maasbanker oor vorige jare 330 000 metrieke ton, wat tot 290 000 metrieke ton in 2023 gedaal het en 270 000 metrieke ton vanjaar.

Die kabinet het ingestem om die totale toelaatbare vangs van maasbanker tot 208 000 metrieke ton vir die visvangseisoen van 2025 te verminder.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!