Hardapdam ook vol nette

Vermeende stropery bekommer oewerhengelaars
'n Boot wat aan die ministerie van visserye en mariene hulpbronne behoort, word glo gebruik om die nette te span en in te trek.
Tanja Bause
Aan die begin van die jaar het oewerhengelaars 2 601 kilogram vis tydens ‘n kompetisie by die Hardapdam gevang. Vandeesmaand het ‘n groep van dieselfde grootte slegs 457 kilogram gevang. Dié verskil toon die duidelike afname in dié dam se visgetalle.

Dít glo omdat nette gebruik word om vis te vang in die vlak agterkant van die dam.

Tydens die eerste kompetisie is 82 blou kurpers teenoor 11 in die laaste een gevang. Aan die begin van die jaar is 971 karpe teenoor die 445 in Oktober uitgetrek, 17 moddervisse teenoor twee, en tien geelvisse vergeleke met nege vandeesmaand. Terwyl 87 vroeër vanjaar uitgetrek is, is nie ‘n enkele baber by die mees onlangse kompetisie gevang nie.

Volgens mnr. Leon Diedericks, ‘n varswaterhengelaar, is stropery die afgelope twee jaar ‘n probleem in dié gebied.

“Dit het twee jaar terug begin, maar dit is aan die toeneem. Ons kan net in ‘n sekere gebied hengel omdat die dam nie baie waloppervlak het nie. Die nette en langlyne lê daar waar ons vang. Dit is lyne met 150 aashoeke aan en kiefnette - wat in elk geval onwettig is. Die nette word in die oggede en middae uitgehaal en al die vis, ongeag van grootte, word gevat.”

‘n Boot wat aan die ministerie van visserye en mariene hulpbronne behoort, word glo gebruik om die nette te span en in te trek. Hulle laai die vis in en neem dit wal toe - waar ‘n bakkie met ‘n regeringsnommerplaat die vangs oplaai en wegry.

“Ons het die mense al baie gekonfronteer en elke keer verskil hulle stories. Hulle het geen permitte of papiere nie, wat hulle bedrywighede onwettig maak. Hulle het al gesê die ministerie het hulle opdrag gegee om vis te vang vir die honger mense. Hulle is ook glo al aangesê om vis te vang sodat die Covid-19 pasiënte kan eet; of vir die onafhanklikheidsvieringe wat in Mariental plaasgevind het. Ons het al die kantore in Windhoek gebel en hulle sê weer alle visse wat met die nette gevang word, is vir navorsing. Dan is die nette nog onwettig - iets wat ‘n mens verwag die ministerie sal weet,” het mnr. Morne Prenn, ook ‘n varswaterhengelaar, gesê.

Volgens dié hengelaars word tonne en tonne vis van die dam af weggery.

“Wanneer ons ‘n kompetisie hou, is ons ongeveer 80 mense wat met twee stokke met aas aan hengel en ons vang ‘n gemiddeld van 1,5 ton tussen ons. Vergelyk dit (met die hoeveelheid wat gevang kan word) met ‘n net en ‘n langlyn wat twee keer per dag uitgehaal word.”

WYER IMPAK

As daar nie meer vis vir hengelkompetisies is nie, kan dit ‘n groot inkomsteverlies inhou vir die Hardap-ontspanningsoord wat deur Namibia Wildlife Resorts Limited (NWR) bestuur word.

“Ons het ses kompetisies, wat nie die oefening- en ontwikkelingsnaweke insluit nie. Wanneer ons die Sone 5-kompetisie hou, neem mense van Suid-Afrika ook deel. Dit is baie mense wat verblyf nodig het. Dit bly egter nie daar nie; dít wat bestee word aan kos, brandstof, aas, hengelgereedskap ensovoorts sal ook wegval. Dit is ook nie regverdig dat mense 1 500 kilometer vanuit Suid-Afrika moet ry om drie visse te kom vang waar hulle ‘n jaar terug tien gevang het nie. Hulle sal eenvoudig nie meer kom nie en die kompetisie sal doodloop,” verduidelik die hengelaars.

REGULEER VANGSTE

“Ons verstaan as die mense die vis vir hulself vang, maar dan moet dit wettig wees. Wanneer ons visvang moet ons ‘n permit hê. So, hulle moet ook ‘n wettige permit of toestemmingsbrief hê. Vang met wettige nette en nie in ons hengelgebied nie. Kom ons bespreek die situasie en vind ‘n oplossing. Vang aan die oorkant van die dam sodat ons sport nie benadeel word en doodloop nie. Ons kan ongelukkig nie skuif nie, want daar is net soveel oeweroppervlak vir ons, maar hulle gebruik in elk geval op die ministerie se boot, so dit maak mos nie saak waar die nette gespan word nie.”

OWERHEDE REAGEER

“Ons in geen posisie om enige vrae rakende bedrywighede by die dam te beantwoord nie, want ons speel geen rol daar nie,” het mnr. Nelson Ashipala, NWR se woordvoerder, gesê.

Mnr. Johannes Amukwaya, adjunk-direkteur vir akwakultuur en binnelandse visvang in die ministerie van visserye en marine hulpbronne, het gesê hulle sal moet ondersoek instel of dit wel hulle boot en werkers is en het belowe om teen Vrydag op Republikein se vrae te reageer. Geen antwoorde is egter teen druktyd van die ministerie ontvang nie.

“Deel asseblief die foto's. Dit sal help met die opstel van die antwoorde,” het mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê. Geen terugvoer is tot dusver van dié ministerie ontvang nie.

WAT Sê NAMWATER?

NamWater het op 5 Oktober die Swakoppoortdam besoek nadat ‘n artikel oor stropery by dié dam gepubliseer is.

“Amptenare van NamWater, sowel as amptenare van die Namibiese polisie en die ministerie van visserye, het die dam vir 'n raadplegende vergadering besoek – hoofsaaklik sodat die relevante belanghebbendes ‘n algehele begrip van die situasie ter plaatse kon kry,” lui ‘n verklaring wat NamWater gevolglik uitgereik het.

“Gebaseer op die bevindinge van die vergadering sal ‘n aksieplan geprioritiseer word vir die uitvoering van ‘n goed georganiseerde gesamentlike operasie deur die relevante rolspelers. Die plan sal by ander damme uitgerol word waar soortgelyke onwettige aktiwiteite aangemeld word.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer