Maasbankerfabrieke pleit vir eksklusiewe vangsone
Vroeë winter lê vangste lam
Die aanlandige maasbankerbedryf op Walvisbaai moes bedrywighede staak en werkers huis toe stuur aangesien dié visbron vir die winter na warmer waters migreer het, en vra vir 'n hersiening van die vanggebiede.
Bedrywighede by die twee groot aanlandige maasbankerfabrieke op Walvisbaai het tot stilstand gekom weens die onbeskikbaarheid van vis vir verwerking gedurende die winter – 'n situasie wat as onvolhoubaar beskou word en waarvoor dringende hervorming bepleit word.
Die Gendev Fishing-groep se hoofbestuurder, mnr. Peter Strydom, het egter gerugte weerlê dat die maatskappy sy bedrywighede gaan sluit en sowat 700 werknemers gaan aflê.
“Geen besluit is geneem om te sluit of werkers af te lê nie. Ons het wel met die werknemers gepraat en gesê as gevolg van die klein hoeveelheid vis wat gevang word, produksie tydelik gestaak sal word. Sodra daar meer vis is, sal produksie soos normaal voortgaan.”
Gendev Fishing en Princess Brand Processing (voorheen Seaflower Pelagic Processing) vang maasbanker wat op die land verwerk word.
Die aanlandige maasbankerbedryf beywer hom reeds twee jaar vir ‘n wysiging van die regulasie wat vangste tot op ‘n diepte van 200 m beperk – die sogenaamde 200 m isobaar-beperking. Die bedryf glo dat dit dié sone is waarheen die maasbankers migreer.
“Dit is ’n baie sensitiewe kwessie. Ons het twee jaar gelede die versoek gerig om in die 200 m isobaar-gebied vis te vang en wag nog vir ’n antwoord. Dit wys dat dit 'n besluit is wat nie ligtelik geneem kan word nie,” het Strydom gesê.
Mnr. Adolf Burger, uitvoerende hoof van Prinses Brand Processing (PBP), sê dié maatskappy het ook sy visserbote uit die viswaters onttrek.
“Ons werkers is tans tuis omdat dit winter is en maasbanker tradisioneel in dié tyd nie buite die 200 m isobaar-beperkingsone voorkom nie.
“Die fabrieksbote wat die vis aanboord vries, kan nog vang omdat die vangmetodes verskil, maar ons kon van die begin van Julie af niks meer vang nie. Met die huidige koste van brandstof bestee ons sowat N$250 000 per dag aan brandstof en ons het twee vaartuie, wat dit onvolhoubaar maak as jy nie vis land toe bring nie,” sê Burger.
“Dit is ‘n feit dat ons kleiner visserbote nie in dieselfde gebied as die groot fabrieksbote kan vang nie, want die manier waarop gevang word verskil en veroorsaak dat ons kleiner bote gedurende die wintermaande onsuksesvol is,” verduidelik Burger.
Fabrieksbote sleep 24 uur per dag, 7 dae per week groot nette oor die seegebied waar maasbanker voorkom en vries alles wat in die nette beland. Die aanlandige verwerkers se kleiner bote moet ‘n skool vis opspoor voordat hulle nette in die water sit om die spesifieke skool te vang, sê hy.
“Die aanlandige bedryf probeer sover onsuksesvol om met die regering en verskeie lynministers daaroor te onderhandel. Volgens die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se departement van navorsing kom die oorgrote meerderheid van maasbanker-skole binne die 200 m diepte voor waar vangste nie toegelaat word nie. Dié visbron beweeg op verskillende dieptes na gelang van watertemperature en tydens wintermaande kom daar bykans geen skole buite die 200 m diepte voor nie,” sê Burger.
Tydens 'n onlangse vergadering met verteenwoordigers van die stokvisbedryf op die hawedorp het die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Derek Klazen, aan die media gesê die 200 m isobaar-gebied is 'n sensitiewe kwessie.
“Voor onafhanklikwording was ons waters vry vir almal om in te hengel. Daarna is regulasies ingestel om ons visbronne volhoubaar te benut. Die 200 m isobaar-beperking is ingestel om ons vis kans te gee om te groei. Ander maatreëls soos die Totale Toelaatbare Vangs (TAC) is ook ingestel. Gedurende die wintermaande migreer maasbanker. Daar is egter geen bewyse dat hierdie visse in die 200 m isobaar-gebied gevind kan word nie. Dit is nog nie bewys nie.”
Hy sê die ministerie beplan om 'n werkwinkel aan te bied waar wetenskaplike feite deur die ministerie en onafhanklike wetenskaplikes ter tafel gelê sal word.
"Ons wil mense betrek wat studies in hierdie beperkte sone gedoen het en daarna kan ons kyk na 'n pad vorentoe.
Klazen sê Namibië word beskou as een van die toplande ter wêreld wat volhoubare visvang betref.
“Die beperking van vangste tot die 200 m isobaar word geprys deur ander lande en ons moet baie versigtig wees hoe ons hiermee omgaan.”
NDP5
Burger sê dit is nie net die 200 m isobaar-beperking wat aanlandige maasbankerverwerkers benadeel nie.
Hy sê die kwotaverdeling tussen vis wat op bote gevries word en dit wat nat land toe gebring word, moet gewysig word.
“Aanlandige fabrieke het meer as 80% van die totale getal viswerkers van die maasbankerbedryf in diens. Die fabrieksbote benut minder as 20% van die direkte werksgeleenthede, maar sit met die grootste deel van die maasbanker-kwota
Hy sê fabrieksbote se kwota moet in pas met die Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) na slegs 30% van die TAC vir maasbanker verminder word vanaf die huidige 70% plus wat aan hulle toegedeel is. Dit sal die buitengewone winste van die fabrieksbote wat net ‘n klein groepie Namibiërs bevoordeel, beperk. Die TAC vir maasbanker (vir fabrieksbote en aanlandige fabrieke) beloop 330 000 ton.
Burger sê sodra die aanlandige verwerkers se kwota gegroei het tot 70% van die TAC, kan hulle maklik 10 000 direkte nuwe werksgeleenthede skep en 1 000de bykomende indirekte werksgeleenthede.
“Die meerderheid van fabrieksbote laai hul vangste op see op vragskepe oor wat dit na ander lande vervoer sonder dat enige aanlandige infrastruktuur daarby baat vind. Sodoende verloor Namibië buiten werksgeleenthede, miljoene Namibiese dollar in bykomende inkomste en belastings. “
Hy sê deur hierdie kwota-aanpassing kan die regering die reeds N$1,5 miljard wat in aanlandige fabrieke belê is, help beskerm.
“Daar is tans 1 300 werkers in die aanlandige maasbankerbedryf wat by die huis sit omdat die vissersbote nie op see is nie. Hoe lank kan die fabrieke dit bekostig om vir maande aaneen werkers te betaal sonder enige inkomste?
“Ons sal aanhou klop aan die deur van ons leiers totdat ons ‘n oplossing kry. Dit sal moet begin by eksklusiewe sones sowel as indiepte-navorsing oor waar die visbron is gedurende 12 maande van die jaar, asook ‘n begrip van die voordele van aanlandige verwerking teenoor fabrieksbote,” sê Burger.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie