Mariene akwakultuur by Langstrand beplan

Swartmossels, kreef, seewier
Deel van die voorgestelde projek sluit in die konstruksie van verwerkings- en verpakkingsaanlegte met koelstoorgeriewe, sowel as die aflandige installering van drywende langlyne.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne en die Benguela-stroom Konvensie (BBC) het opdrag gegee vir ’n omgewingsimpakstudie oor die moontlike ontwikkeling van mariene akwakultuur (marikultuur) by Langstrand tussen Swakopmund en Walvisbaai.

Die impakstudie deur KPM Environmental Consulting moet alle potensiële omgewings- en maatskaplike risiko’s wat met die voorgestelde projek verband hou, identifiseer en evalueer.

Die beplande projek deur die ministerie en BBC sluit onder meer die konstruksie van geriewe vir akwakultuur-produksie, insluitend marikultuur en algeplase waar die strukture nie binne ’n ontwikkelingsone vir akwakultuur is nie. Deel van die beplande projek behels ook die ontwikkeling en afbakening van marikultuurplase binne akwakultuur-sones.

In die Namibiese konteks word akwakultuur beskou as hoofsaaklik die boer met varswatervis. Marikultuur word tans in Swakopmund, Walvisbaai en Lüderitz bedryf binne die voedingstofryke Benguela-seestroom Mariene Ekosisteem (BCLME).

Volgens inligting wat KPM met Langstrand-inwoners gedeel het, is bogenoemde hoogs voordelig vir filtervoerders soos oesters en mossels. Die nadele is dat lae suurstofvlakke en ongunstige toestande soos swaeluitbarstings egter massasterftes kan veroorsaak.

Ná ’n aanvanklike oplewingsfase in die vroeë 2000’s – wat ondersteun is deur die regering se aansporings om in akwakultuur te belê – ingesluit die vestiging van akwakultuurparke in Walvisbaai, het swaeluitbarstings, lae suurstofvlakke in die water en skadelike alge egter tot massasterftes gelei. Volgens KPM is produksie gevolglik verdeel tussen verskillende gebiede om die omgewings- en ekonomiese risiko te versprei.

Die voorgestelde projek vir die ontwikkeling van marikultuur is vir Langstrand geoormerk. Die impakstudie is gemik op die afgebakende akwakultuurparke, insluitend gebiede wat geoormerk is vir landgebaseerde marikultuur, sowel as bestaande en ontluikende projekte wat in Langstrand geleë sal wees.

Die voorgestelde projek vir die ontwikkeling van akwakultuurparke sal beide bestaande sowel as toekomstige akwakultuur-bedrywighede in Walvisbaai insluit.

Van die spesies geoormerk vir die studie en geoormerkte projek sluit in swartmossels, perlemoen, kreef, kelp en seewier.

Deel van die projek sal insluit die konstruksie van verwerkings- en verpakkingsaanlegte met koelstoorgeriewe, die aflandige installering van drywende langlyne, verpakking, vries en vervoer van produkte na verskeie markte, sowel as die onderhoud en herstel van infrastruktuur en toerusting.

Met verwysing na afval, sê KPM geen skadelike afval sal na verwagting tydens normale produksie geproduseer word nie.

Volgens die konsultante kan die besoedeling van oppervlakwater voorkom wanneer materiaal soos plastiek in die see beland.

Visplase kan ook ’n impak op die bevolking van wilde visse hê deur siektes en parasiete aan migrerende visse oor te dra. Voorts kan akwakultuur waterstelsels besoedel met oortollige voedingstowwe en fekale materiaal weens die groot getalle en konsentrasie van vis waarmee geboer word.

Met verwysing na die fisieke impak van die visplase kan die langlyne met ankers tydelike skade aan die plaaslike habitat aanrig. Aangesien dit egter ’n dinamiese ekosisteem is, sê die konsultante die habitat sal na verwagting gou herstel met geen langdurige nagevolge nie. Inteendeel, die byvoeging van ankers met toue op die seebodem kan ’n bykomende habitat en ’n geringe toename in die plaaslike biodiversiteit skep.

Met oesters wat reeds etlike jare in die kusdorpe gekweek word, is geen duidelike impak op die plaaslike ekosisteem en biodiversiteit gemerk nie.

Langlyne en uitgroei-mandjies skep volgens die konsultante ’n bykomende habitat en skuiling vir plaaslike spesies, insluitend jong krewe en vis wat ’n pluspunt is.

Vir enige navrae of kommentaar kan ’n e-pos aan [email protected] of [email protected] gestuur word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!