Die 600 viswerkers wat hul werk by Seaflower Pelagic Processing (SPP) verloor het, is terug in diens nadat dié visverwerkingsaanleg ooreenkomste met ander kwota-vennote gesluit het. Dit staan nou as Princess Brand Processing bekend. Foto Verskaf
Die 600 viswerkers wat hul werk by Seaflower Pelagic Processing (SPP) verloor het, is terug in diens nadat dié visverwerkingsaanleg ooreenkomste met ander kwota-vennote gesluit het. Dit staan nou as Princess Brand Processing bekend. Foto Verskaf

SPP stel weer 600 werkers aan

Seaflower Pelagic herposisioneer, verander sy naam
Seaflower Pelagic Processing op Walvisbaai het ná die Fishcor-debakel oor kwotas 'n nuwe blaadjie omgeslaan en is volstoom in bedryf.
Ronelle Rademeyer
Anderhalfjaar nadat African Selection Fishing Namibia (ASFN) en die staat se vismaatskappy, Fishcor, se paaie geskei en 650 werknemers by dié twee vennote se aanlandige maasbankeraanleg, Seaflower Pelagic Processing (SPP), hul werk verloor het, is 600 fabriekswerker weer voltyds terug in hul poste.

Dié multimiljoendollar aanleg op Walvisbaai het ook intussen sy naam verander en staan nou as Princess Brand Processing (PBP) bekend.

Mnr. Adolf Burger, hoofbestuurder van PBP, sê die maatskappy het ooreenkomste met verskeie kwotahouers vir maasbankervangste aangegaan en kon daaraan slaag om 25 000 ton se kwota vir 2022 te bekom.

Hy sê dit het PBP in staat gestel om vir 600 fabriekswerkers kontrakte aan te bied tot 31 Desember vanjaar. Verder is van die geskoolde werknemers wat afgelê is, ook weer voltyds terug in hul poste.

Die beleërde SPP het in 2017 tot stand gekom nadat Fishcor met ASFN ’n ooreenkoms gesluit het om as bedryfsvennoot ’n visverwerkingsaanleg vir maasbanker op te rig, vissersbote aan te skaf en die vangste te bemark. Fishcor besit 40% van die aandele in SPP en AST 60%. Die ooreenkoms het verder ’n jaarlikse maasbankerkwota van 50 000 ton aan SPP gewaarborg.

SPP se voorsitter, mnr. AJ Louw, het vroeër aan Republikein gesê Fishcor het nie by die ooreenkoms gehou nie, en skuld die vismaatskappy miljoene Namibiese dollar omdat hy in gebreke gebly het om die kontrak te eerbiedig.

“Vanaf 2018 moes ons 50 000 ton kwota per jaar ontvang, dus 250 000 ton in totaal. Daarvan het ons slegs 75 667 ton ontvang. Van dit is 30 000 ton deur Fishcor verkoop sonder dat SPP enige inkomste ontvang het nie,” het Burger gister gesê.

Die kontrak hiervoor is in Januarie 2017 met mnr. James Hatuikulipi onderteken, wat toe die voorsitter van Fishcor was. Bykans drie jaar later het die bom oor die Fishrot-viskwotaskandaal in November 2019 gebars en Hatuikulipi is saam met onder andere die voormalige ministers van visserye en mariene hulpbronne en van justisie, mnre. Bernard Esau en Sacky Shanghala, in hegtenis geneem.

Louw het in die verlede herhaalde kere benadruk SPP het niks met Fishrot te doen gehad nie. “Ons het besigheid gedoen met die Namibiese regering. Nie net met een of twee individue nie.

“Pres. Hage Geingob het ons fabriek besoek en vertel hoe beïndruk hy is,” het Louw destyds met verwysing na dié skandaal gesê.

Volgens hom hoop SPP, of die nuwe PBP, steeds om die kwota-geskil met Fishcor vriendskap te besleg. ‘n Hofgeding is tans hangend, maar hy sê die vismaatskappy hoop ‘n skikking kan bereik word.

Burger sê die herposisionering lui ná die Fishcor-debakel ‘n nuwe era vir die visverwerkingsaanleg in.

“Ons wil die Princess-handelsmerk, waaronder die moedermaatskappy African Selection Trust (AST) ook in Angola en Suid-Afrika visprodukte bemark, sterk in Suider-Afrika vestig,” sê hy.

“Ons sal veral op suidelike Afrika fokus, omdat lande maasbankerprodukte tariefvry kan invoer.”

Burger sê dit sluit egter nie die moontlikhede van uitvoere na ander Afrikalande of elders in die wêreld uit nie.

Volgens hom is die nuwe hoofstuk moontlik danksy ooreenkomste vir kwota wat met “sowat 15 of 16” kwotahouers aangegaan is.

‘n Inmaakfabriek is ook by die aanleg gevestig om die vis in blikkies in te lê, sê hy.

As dit ten volle operasioneel is, kan ‘n verdere 450 mense in diens geneem word.

Die werknemers het intussen in ‘n verklaring gesê hulle is verheug daaroor dat al die voorheen permanente werknemers weer terug is in hul poste en die 600 fabriekswerkers met vastetermynkontrakte heraangestel is.

“Ons almal verstaan die moeilike tye en swaarkry waardeur die maatskappy die afgelope twee jaar is, en glo ons aandeelhouers is daartoe verbind om dit op te los en ons te help om na ons gesinne om te sien,” sê hulle. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!