Stropers teiken Zambezirivier

Verwyder 159 onwettige nette
Die Swakoppoort- en Von Bachdam gaan steeds gebuk onder visstropery sonder enige oplossing in sig.
Tydens ’n klopjag by die Zambezirivier is op 159 onwettige nette en 200 kilogram gestroopte vis beslag gelê.

’n Sakeman van Katima Mulilo het Giacomo Boffelli van die Katima Security Group genader om uit te vind of hy met die onwettige nette kan help.

“Ek het die Namibiese polisie, die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne genader en ons het besluit om op te tree,” het hy gesê.

’n Boot is vir die klopjag geborg en Boffelli het vyf wagte beskikbaar gestel.

“Ons het vir 20 kilometer per voet en per boot die Zambezirivier gepatrolleer en skoongemaak. Ons het die pad vanaf Isize na Luhonono gepatrolleer en die rivier in die Kalundu- en Malindi-gebied.

“Ons het op die eerste dag ’n totaal van 82 onwettige kiefnette uit die water gehaal en verbrand. Ons het ook sewe sleepnette vernietig. Dié nette word van muskietnette gemaak en van die Namibiese kant van die rivier deur die breedte daarvan na die Zambiese kant gespan. Niks swem deur dié nette nie.”

Die visseryeministerie het twee boetes ter waarde van N$1 100 uitgereik aan oortreders van die Wet op Binnelandse Visserye van 2003.

“Ons het ook beslag op ’n luislang gelê en dit aan die omgewingsbeamptes oorhandig.”

In ’n kwessie van ses dae is altesaam 159 onwettige nette verwyder en verbrand, en op 200 kilogram gedroogte vis beslag gelê. Dit alles in ’n afstand van 20 kilometer.

“Ons het ook klein vissies uit die nette verwyder. Die nette is so fyn dat dit alles vang. Toe ek sien wat aangaan, was ek geskok en het besef ons het ’n groot probleem.”

Boffelli sê van die gemeenskapslede het die operasie ondersteun.

“Dit is die mense wat vir hulself en hul families visvang. Die ander kry die nette van buitelanders. Hulle vang net die visse, droog dit uit, pak die visse in sakke en dan kom die buitelanders en ry die visse weg. Hulle was nie so gelukkig met ons operasie nie. Daar is basies twee groepe, diegene wat van die visse lewe en die ander wat net wil geld maak.”

Boffelli het die gemeenskap bedank wat met die operasie gehelp het en het beklemtoon dat enige hulp in die toekoms waardeer sal word.

DAMME

Op 11 Mei is nog ’n onwettige net verwyder uit die Von Bachdam by Okahandja met klomp visse in. Een man is in hegtenis geneem.

Volgens Derek van der Merwe, wat saam met die omgewingsministerie die nette by die dam verwyder, het hulle al vanjaar tussen 400 en 500 meter nette uitgehaal en verbrand.

“Ons probeer die visse red, maar as die visse al ’n dag lank in die net was, is daar niks wat ons kan doen nie. Die probleem is egter groot en word net erger.”

Republikein het aan die einde van verlede jaar besoek by die Swakoppoortdam afgelê en op talle kampe met onwettige inwoners afgekom wat sedert 2017 al hoe meer word.

In Oktober het ’n ingeligte bron gesê daar word weekliks sowat sewe ton gedroogte vis van die dam af weggery. Dieselfde bron het aan die begin van die jaar gesê dat die plakkers en nette toegeneem het.

Vrae is in Februarie aan NamWater gestuur in verband met die situasie by die dam.

“’n Gesamentlike operasie tussen die visseryeministerie, Nampol en NamWater het op 14 tot 16 November 2022 plaasgevind. Tydens die operasie is die vissermanne gewaarsku dat hul kampe rondom die dam en hengelaktiwiteite onwettig is. Die omgewingsamptenare het die droë en vars vis en die nette wat by die vissermanne gekonfiskeer is in die teenwoordigheid van die vissermanne verbrand.

Die situasie by die dam het egter onveranderd gebly.

NamWater het sedertdien die slotte van die toegangshekke by die hoofpad verander om sover moontlik ongemagtigde toegang te voorkom.

Volgens NamWater se werknemers kry die vissermanne egter toegang tot die dam via een van die buurplase.

NamWater het regsadvies aangevra en regstappe sal gedoen word om die huidige situasie te verander terwyl daar terselfdertyd reëlings getref word om so gou as moontlik nog ’n gesamentlike operasie van stapel te stuur,” het NamWater in Februarie gesê.

Sedertdien het nog niks by die dam verander nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!