• Tuisblad
  • Weer
  • Binneland kan meer as 25 mm se reën in Desember verwag
Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Binneland kan meer as 25 mm se reën in Desember verwag

Ellanie Smit
Desember se reënvoorspellings dui daarop dat die verre westelike en meeste van die suidelike dele van die land waarskynlik ondernormale reënval sal ontvang, met elders wat glo bonormale reënval kan verwag.

Die binneland sal na verwagting reënval van meer as 25 mm ontvang, terwyl die suide en verre westelike dele reënval van onder 25 mm kan verwag.

Die gemiddelde temperature, tussen 15 grade Celsius en 25 grade Celsius, word langs die kus en sentrale binneland verwag, terwyl die res van die binneland gemiddelde temperature tussen 26 grade Celsius en 33 grade Celsius kan verwag.

Dit is volgens die Namibië Meteorologiese Diens se Climate Watch-verslag wat in Oktober uitgereik is.

Die verslag dui verder aan dat Oktobermaand baie droog was, met slegs enkele plekke wat reënval aangemeld het.

Dit het egter beduidend oor die noordooste van Namibië gereën met Ndonga Linena wat 70 mm ontvang het, Ngoma 36,5 mm, Katima Mulilo 35,5 mm en Otjituuo 33 mm.

Volgens die verslag is ondergemiddelde reënval oor die meeste dele van die land waargeneem, terwyl gemiddelde tot bogemiddelde reënval plek-plek rondom Keetmanshoop, Rehoboth, Grootfontein en die sentrale kus beperk was.



WARMSTE MAAND

Wêreldwyd was Oktober die tweede warmste maand, met ’n oppervlak-lugtemperatuur van 15,25 grade Celsius. Dit is 0,80 grade Celsius bo die 1991-2020-gemiddelde vir Oktober, merk Climate Watch op.

Verder was die gemiddelde oppervlak-lugtemperatuur vir Namibië 23,9 grade Celsius, 0,6 grade Celsius bo die 1991-2020 gemiddelde vir Oktober.

“Die grootste deel van die land het warmer temperature bo 23 grade Celsius vir die maand waargeneem, terwyl koeler temperature onder 23 grade Celsius oor die verre suide en verre westelike deel van die land waargeneem is,” dui Climate Watch aan.

Die verslag dui ook aan dat die koeler temperature oor die verre suidelike deel van die land te wyte is aan die gevolge van die koue fronte wat van wes na oos oor die gebied beweeg het.

Die noordelike dele van die Kunene-, Omusati- en westelike Ohangwenastreek het bogemiddelde temperature ervaar wat gewissel het van 1,5 grade Celsius tot 3,5 grade Celsius, bo die 1991-2020-gemiddelde gedurende Oktober.

Die Windhoek-omgewing en plek-plek langs die suidelike Namib het 2 grade Celsius bo die langtermyngemiddeld waargeneem.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!