Eerste reën vir dié jaar

Vooruitsigte lyk belowend
Inwoners van Windhoek en ander dele van die land het reënvalsyfers in hul omgewing in die sosiale media gedeel.
Kristien Kruger
Die nuwe jaar is met reënbuie in verskeie dele van die land begroet en die Namibiese weerkantoor voorspel dat nóg reën op pad is.

Volgens die weerkantoor se hoofweervoorspeller, Odillo Kgobetsi, word reën vir die sentrale dele van die land voorspel, asook vir die oostelike streke, die Kunenestreek en die sentrale Noorde.

“Effense droë toestande word vir die Zambezistreek voorspel, maar reën ontwikkel vanaf vanaand in dié gebied en ons verwag ook reën deur die loop van die week.”

AFGELOPE NAWEEK

Sowat 18,5 mm is glo gister in die omgewing van die Drie Krone-landgoed, Oos van Windhoek, aangeteken.

Adell Malan sê ’n vinnige haelbui het uitgesak en dit het veroorsaak dat water in die dam in die omgewing ingevloei het. Drie Krone het Saterdag ook 10 mm gemeet.

“Snuffels [hond] het sommer dadelik in die water gaan sit,” vertel Malan.

Windhoekers het reënvalsyfers in hul omgewing op Facebook gedeel met Andrew Kisting in Khomasdal wat gister 10 mm en Trevor Pearce van Hochlandpark wat Saterdag 9 mm aangeteken het. Inwoners van Pionierspark het tussen 3 mm en 4 mm reën gehad.

Borrie Borman van Tsumeb het gesê 6 mm het Sondag in die omgewing van dié dorp se lughawe geval en Bertie Liebenberg het Sondag 9 mm op Otjiwarongo gemeet. Brian Eagleton het gesê 6 mm is buite Outjo aangeteken.

WEERVOORUITSIG

Kgobetsi het verder gesê die kus kan ook in die komende week meer bewolkte toestande verwag met ligte reën in dele van die noordelike en sentrale kus. Droë lug en mistigheid word ook vanaf Woensdag vir die kus voorspel.

“Temperature in die Noorde kan in die komende dae tot in die lae 30’s styg en warmer weer kan later in die week in die sentrale dele verwag word,” het Kgobetsi gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 21° | 32° Oshakati: 23° | 29° Ruacana: 18° | 33° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 31° Omaruru: 19° | 32° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 20° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 21° | 32° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 15° | 32° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 28° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 24° | 34° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 19° | 23° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!