Genadewater

Francoise Steynberg
Die afgelope naweek het wydverspreide en swaar reënbuie voorgekom met verskeie riviere wat sterk gevloei en tot stygende damvlakke gelei het.

In die suidelike, suidwestelike, noordwestelike en westelike dele van die land moes voertuie voor vol riviere wag en verskeie paaie het verspoel.

Daar is weer eens verskeie berigte ontvang van voertuie wat lopende riviere probeer oorsteek het en meegesleur is.

’n Viertrekvoertuig met ses weermagsoldate is in die Aubrivier, sowat 10 km buite Keetmanshoop op die Aroab-grondpad meegesleur. Volgens berigte het ’n boer hulle te hulp gesnel en met ’n tou na veiligheid uitgetrek. Die pad tussen Aroab en Keetmanshoop was ook erg beskadig.

Die Tsauchabrivier het die Sesriem-canyon bereik en by Agama Lodge op die C19-pad moes toeriste na Solitaire terugkeer.

In die Noordweste was die C40-pad tussen Kamanjab en Palmwag verspoel, so ook die C39-pad tussen Khorixas en Bergsig met die Huabrivier in vloed. Die Katrivier by Uis het ook geloop ná 55 mm reën oor drie dae waar ’n bakkie ook meegesleur is.

Met die Swakoprivier wat op pad kus toe was en besoekers gelok het wat dit wou aanskou, kon Goanikontes slegs met die D1991-pad bereik word.

Die verre Suide was geseën met goeie buie. Op die plaas Alt Duwisib, 95 km suidwes van Maltahöhe, het 63 mm uitgesak. In die droë Aroab-omgewing is 45 mm aangemeld, asook 21 mm op die plaas Toulon, 25 km noord van Aroab. Die plaas Vaalpan, 70 km suidoos van Koës, het 20 mm gehad. Sekere dele in die Kalahariwoestyn is nog baie droog, maar die plaas Neumark in die Blumfelde-omgewing is dankbaar oor die 28 mm wat hulle ontvang het.

In die Noordweste het die Brandberg-ruskamp 55 mm in drie dae gehad. In die omgewing van Kamanjab en Fransfontein is die volgende reënsyfers op plase aangemeld: Weerlig 60 mm, Westfallen 46 mm, Blydskap en Etusis 25 mm en Mount Hohenfels 8 mm. Die plaas Libertas, 70 km buite Outjo op pad na Khorixas, het 40 mm gehad en die plaas Belalaika, ook in die Outjo-distrik, 26 mm met die totaal nou op 280 mm vir die seisoen. Otavifontein se plotte het 30 mm gehad en het al 634 mm vir die seisoen ontvang.

DAMVLAKKE

Sewe damme het invloei gehad en die land se gesamentlike damvlak staan nou op 57,8% teenoor verlede jaar se 55,4%.

In die sentrale gebied het twee belangrike opgaardamme invloei gehad. Die Swakoppoort het invloei van 1,704 miljoen kubieke meter gehad en Von Bach 3,128 miljoen kubieke meter. Swakoppoort is nou 37,5% vol en Von Bach 35,3% – teenoor verlede jaar se 11,1% die ooreenstemmende tydperk. Die Friedenaudam oos van Windhoek is nou 45,8% vol.

In die Suide het die Nautedam by Keetmanshoop allemintige invloei van 9,115 miljoen kubieke meter gehad en is nou 44,2% vol teenoor verlede week se 40,5%. Die Neckartal het ook invloei gehad en staan nou op 81,7%. Die Hardapdam by Mariental se vlak staan op 22,2% en Oanob by Rehoboth 32,8%, bietjie leër as verlede jaar se vlak van 43,1%.

Suide-damme is nou gesamentlik voller teen 63,3% as verlede jaar se vlak van 62,7%.

In die Ooste het die Otjiverohoof- en slikdam invloei gekry, maar is onderskeidelik net 3,3% en 2,5% vol.

’n Weerwaak is uitgereik met matige tot swaar donderbuie wat op plekke oor die noordelike en sentrale streke verwag word en tot kitsvloede kan lei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer