Januarie word as ’n relatiewe nat maand beskryf, maar bogemiddelde reënval word tussen Maart en Mei vir die grootste dele van Namibië voorspel. Foto verskaf
Januarie word as ’n relatiewe nat maand beskryf, maar bogemiddelde reënval word tussen Maart en Mei vir die grootste dele van Namibië voorspel. Foto verskaf

Januarie was ’n 'relatief nat maand'

Bogemiddelde reënval word tussen Maart en Mei vir die grootste dele van Namibië voorspel, maar ondergemiddelde reënval vir die verre suidweste van die land.
Francoise Steynberg
In Januarie is relatief nat toestande oor die grootste deel van Namibië waargeneem, met geïsoleerde tot verspreide reënval wat oor die noordelike en sentrale dele en die oostelike Hardapstreek aangeteken is.

Dit is volgens die Climate Watch-verslag van Januarie 2025 van die Namibië Meteorologiese Diens in die ministerie van werke en vervoer.

Die hoogste reënvalsyfer van 305 mm is by Kasheshe in die Zambezistreek aangeteken, terwyl ander stasies reënvalsyfers van tussen 75 mm en 242 mm gerapporteer het.

Die noordoostelike streke het die hoogste reënvalsyfers van meer as 150 mm ontvang. Die sentrale hooglande asook die westelike en verre suidelike streke het egter net tussen 0 mm en 75 mm uit die reënmeters gegooi.

“Hierdie reënvalverspreiding beklemtoon streekveranderlikheid oraloor die land gedurende Januarie 2025 in vergelyking met die langtermyn- Januarie-gemiddelde. Bogemiddelde reënval is in die sentrale Noorde, die Noordooste, sentrale hooglande, sentrale Hardap- en die noordelike ||Kharasstreek aangeteken,” lui die verslag.

“Gemiddelde reënval is waargeneem wat oor ’n wyer gebied rondom die bo-normale streke versprei het. Verder is ondergemiddelde reënval oor die res van die land waargeneem, met reënvaltekorte van meer as 75%.

“Hierdie patroon beklemtoon ’n algemeen droë Januarie, gekenmerk deur meer droë as nat tye en slegs ’n beperkte gebied wat normale of bo-normale reënval ontvang,” lui die verslag.

Reënvalverspreiding volgens die seisoen van Oktober 2024 tot Januarie 2025 dui daarop dat dit hoogs veranderlik oor die land was.

Volgens die verslag is bo-normale reënval kol-kol waargeneem oor die sentrale Noorde, Noordooste en sentrale hooglande, insluitend die sentrale Hardapstreek.

“Normale reënval is oor die grootste deel van die noordoostelike kwadrant, sentrale Hardap- en die noordelike ||Karasstreek waargeneem. Daarteenoor is ondernormale reënval oor die res van die land waargeneem.”

Die verslag beklemtoon dit is belangrik om daarop te let dat die Noordweste, Suidweste en die grootste deel van die ||Kharasstreek sedert die begin van die seisoen in die ondergemiddelde kategorie was.

“Die veranderlikhede in die verspreiding van reënval van die 2024-’25-reënvalseisoen beklemtoon die belangrikheid van deurlopende reënvalmonitering vir akkurate klimaatbepaling,” lui die verslag.

“Januarie is die hoogtepunt van die Namibiese reënvalseisoen, maar die syfers wat waargeneem is, is ver ondernormaal vir die grootste deel van die land. Dit is te wyte aan die voorkoms van veelvuldige tropiese siklone en storms langs die suidoostelike kus van Suider-Afrika, wat die reëndraende stelsels van die Namibiese binneland wegtrek,” lui die verslag.

Die goeie nuus is dat bogemiddelde reënval tussen Maart en Mei vir die grootste dele van Namibië voorspel word, maar ondergemiddelde reënval vir die verre suidweste van die land.

“Reënval bo 100 mm kan oor die noordoostelike dele verwag word, terwyl die res van die binneland reënval van minder as 100 mm vir Maart tot Mei kan verwag. Langs die Namibwoestyn word reënval onder 25 mm vir die res van die seisoen verwag,” lui die verslag.



TEMPERATURE

Namibië het die agtste warmste Januarie in die afgelope 15 jaar teen gemiddeld 24,6 °C waargeneem, maar 0,6 °C warmer as die klimaattydperk van 1991 tot 2020, volgens die verslag.

Januarie was egter wêreldwyd die warmste met rekordtemperature wat regdeur 2024 waargeneem is, ondanks die ontwikkeling van La Niña-toestande in die tropiese Stille Oseaan en hul tydelike verkoelende effek op globale temperature.

“Die meeste van die erge hitte was beperk tot die Omahekestreek en noordwestelike dele van die land waar temperature 2 °C tot 4 °C bo die klimaatgemiddelde bereik het. Die Zambezistreek het gedurende Januarie ondergemiddelde oppervlaklugtemperature waargeneem as gevolg van die reënweer.”

Die verslag lui die Maart 2025-voorspelling dui aan dat temperature meestal bo-normaal oor die hele land gaan wees.

“Die verre Noordweste, sentrale Noorde en ’n deel van Noordooste kan die warmste gemiddelde temperature (bo 25°C) vir Maart ervaar. Die res van die land sal na verwagting temperature in die laer twintigs ervaar, met die koelste streke langs die Namib en sentrale deel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer