Kanse nou 71% vir stérk El Niño

Seë én weer span kragte saam
Toestande in die oseaan en atmosfeer ondersteun mekaar tans om El Niño-toestande wêreldwyd te vestig, wat waarskynlik die hele 2023-'24-somerseisoen kan heers.
Elvira Hattingh
El Niño sal na verwagting sy greep op wêreldwye weerpatrone dié somer behou, met ’n 95%-kans dat dit vanaf Januarie tot Maart sal oorheers.

Daarbenewens het die kanse dat ’n sterk El Niño tydens die reënseisoen sal voorkom, onlangs met sowat 71% toegeneem.

Dit is volgens Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) se jongste uitkykstatus van 14 September. Hierdie uitkykstatus is ’n gesamentlike poging deur die NOAA, die NOAA se nasionale weerdiens en ondernemings wat dié organisasies befonds.

Die Australiese Buro vir Meteorologie het ook in sy jongste Enso-uitkykstatus van 19 September gesê ’n El Niño asook ’n positiewe Indiese Oseaan-dipool (IOD) is op pad.

Die Namibiese weerkantoor se hoofvoorspeller, Odillo Kgobetsi, het aan Republikein gesê die seisoenale vooruitskouing vir Namibië sal egter eers teen middel Oktober beskikbaar wees.

“Verteenwoordigers van die Namibiese weerdiens woon tans die 27ste jaarlikse forum vir Suider-Afrikaanse klimaatvooruitskouing (SARCOF) in Mauritius by en daarna sal ’n verklaring beskikbaar wees,” het hy gesê.

WARM SEE

“’n Sterk El Niño beteken nie noodwendig ’n groot impak op weerpatrone nie. Die kanse op verwante weerafwykings is gewoonlik kleiner as die kans op die El Niño self,” het die NOAA bygevoeg.

Data toon egter dat seeoppervlaktemperature in Augustus bogemiddeld in die ekwatoriale Stille Oseaan was. Dit het self groeiende tendense in die sentrale en oostelike dele van die Stille Oseaan getoon. Daarbenewens het toestande in die atmosfeer in die tropiese dele ook afwykings getoon – in ooreenstemming met El Niño-toestande, sê die NOAA.

Die Australiese Buro stem saam dat aanwysers van die oseane El Niño-toestande handhaaf, terwyl sy weermodelle ook aandui dat verdere verhitting van die sentrale tot oostelike Stille Oseaan ֹ’n moontlikheid is.

Terwyl die buro tot dusver gesê het atmosferiese toestande het nog nie met oseane saamgespan om El Niño-toestande te versterk nie, het dit nou verander. Die buro sê daar is nou tekens dat die atmosfeer op die warmer seeoppervlaktemperature in die Stille Oseaan reageer.

Die NOAA het gesê dat toestande in die oseaan en atmosfeer mekaar ondersteun en ooreenstem met El Niño-toestande, wat ’n aanduiding is dat dié weerstoestande tydens die Suidelike Halfrond se somer van 2023-’24 kan heers.

Die klimaatvoorspellingsentrum dateer oseaniese en atmosferiese toestande weekliks op. Die volgende ENSO-bespreking sal op 12 Oktober vanjaar plaasvind.

Die Australiërs sê ook die Indiese Oseaan se seeoppervlaktemperatuur is warmer as normaal, wat aan die IOD sy positiewe waardes verleen. Alle weermodelle waarvan die buro gebruik maak, dui aan dat die positiewe IOD minstens vir die res van die lente sal voortduur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!