Lae vlakke van sentrale damme 'n krisis
Spaar water!
NamWater, Stad Windhoek en die ministerie van landbou, water en grondhervorming het die kritieke watersituasie in die sentrale gebied van die land onder die loep geneem.
Elke druppel tel, maan die uitvoerende hoof van NamWater, Abraham Nehemia.
‘n Dringende waarskuwing is uitgestuur dat die damme in die sentrale gebied van Namibië se gesamentlike watervlak van 18% nie tot die volgende reënseisoen sal hou nie.
Die Omatakodam is byna leeg op ‘n vlak van 0,2% en Swakoppoort is 35,5 vol.
Von Bachdam buite Okahandja se vlak staan slegs op 11,3% met vlotte wat al reeds in die dam is. Die watervlak is so laag dat die water nie eens die sluise by die damwal bereik nie.
‘n Eiland steek al kop uit in die die middel van die leë dam. Die sterk reuk van grond en vrot eier van die water moet deur filtreerstelsels by die Von Bach se waterbehandelingsaanleg versag word waar dooie visse dryf.
NamWater, Stad Windhoek en die ministerie van landbou, water en grondhervorming het Woensdag ‘n mediatoer na die Von Bachdam aangebied om die kritieke watersituasie in die sentrale gebied van die land onder die loep te neem.
Uitdagings van watertekorte in die dorre Namibië, asook kort-, medium- en langtermynplanne is ook op die tafel gesit.
Die hoof-wateringenieur van Stad Windhoek, Sebastian Husselmann het ‘n sterk waarskuwing aan verbruikers uitgestuur dat as water nie gespaar word nie, daar nie voldoende water tot die volgende reënseisoen sal wees nie.
Hy het bevestig belanghebbendes sal Maandag oor die kommerwekkende watervlakke vergader en die aanvraag vir die volgende 12 maande bespreek.
Husselmann het gesê met die swak reënseisoen moes Stad Windhoek waterbeperkings implementeer en daar moet dringend water gespaar word.
“Ons sal verbruikers vir strenger waterbesparing moet druk. Daar sal moontlik na strenger kategorie E-waterbeperkings beweeg word.”
Waterbeperkings van Stad Windhoek staan tans op kategorie C.
Die grootste watervermorsers is onder meer staatsondernemings, skole en koshuise en karwasondernemings.
Wat die langtermynprojekte betref vir ‘n dorre land soos Namibië, het die waarnemende hoof van ingenieursdienste van NamWater, Saltiel Shaanika gesê die ontsoutingsaanleg gaan teen N$5 miljard te duur wees, veral met Windhoek se hoër vlak bo seespieël.
“’n Pyplyn van die Suidedamme is ook nie volhoubaar nie, veral met die lae vlak van die Hardapdam.”
Nehemia, het die onbekostigbaarheid van ontsoutting beaam en bygevoeg dat ‘n pensioenaris in Havanna nie hoë watertariewe kan bekostig nie.
Shaanika het bevestig dat die enigste oplossing die Okavango-pyplyn is.
“Die kabinet het in Februarie beveel daar voortgegaan sal word met die konstruksie van die pyplyn vanaf die Okavangorivier en grondwerke het reeds begin.”
Nehemia het beklemtoon dat die Okavango-pyplynprojek van N$7 miljard oor vyf tot sewe jaar nie meer langer uitgestel kan word nie. Hy sê dat dit die enigste opsie vir die medium en lang termyn is.
“Die idee is nie om heeltyd water uit die Okavango te pomp nie, maar slegs wanneer dit in vloed in die reënseisoen is. Aan die einde van elke reënseisoen sal ons genoeg water in ons damme hê. Dit is slegs ‘n rugsteunstelsel,” het Nehemia gesê.
Kort- en mediumprojekte vir oorweging behels volgens Shaanika onder meer water van die Kombatmyn teen N$40 miljoen.
“Die grondwater van boorgate by Berg Aukas word ondersoek, asook boorgate vir Windhoek.”
Daar word ook ondersoek ingestel na die Abenab-akwifer noord Grootfontein, “maar dit is ‘n groot boerderygebied”.
In Windhoek word ‘n tweede herwinningsaanleg beplan wat moontlik in 2029 voltooi sal wees.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie