Meer nywerhede, meer water

Namibië word voortdurend warmer
Die algehele verandering in gemiddelde temperature, herhaalde en gereelde droogtes en verwoestende vloede in dele van die land is bewyse van die impak van klimaatsverandering.
Henriette Lamprecht
Ellanie Smit – Die nasionale vraag na water in Namibië sal na verwagting 538 miljoen kubieke meter per jaar bereik – byna dubbeld die beraamde vraag van 223 miljoen kubieke meter water in 2015.

Teen 2030 sal die vraag na verwagting ’n geskatte 722 miljoen kubieke meter water bereik.

Volgens die minister van water, landbou en grondhervorming, Calle Schlettwein, is goeie beplanning en ingenieurswese noodsaaklik om verhoogde waterverskaffing te verseker, maar dít alleen kan nie toegang tot bykomende water waarborg nie.

“Die vraag na water gaan aanhou toeneem soos nuwe nywerhede na vore tree,” het hy gesê.

Dit sluit die ontwikkeling van myne en energie sowel as die ontdekking van olie en gas in verskillende dele van die land in, asook die ontwikkeling van ontluikende groenwaterstofprojekte.

Die minister wie se toespraak deur sy adjunk-uitvoerende direkteur, Eliah Ngurare, by die nasionale werkwinkel vir watersekuriteit en klimaatsverandering voorgelees is, sê geen sektor kan sonder water ontwikkel nie.

Schlettwein het gesê op grond van beskikbare data het die voorkoms van droogtes en vloede wêreldwyd oor die afgelope vier dekades met ’n gemiddeld van 18% toegeneem.

Volgens hom toon rekords daar is ’n sterk verband tussen die toename in waterverwante rampe en aardverwarming, wat die sleutelbydraer tot klimaatsverandering is.

“Wetenskaplike bewyse toon dat Namibië warmer word. Oppervlaktemperature het die afgelope 100 jaar met 1,2 grade Celsius gestyg. Die voorkoms van uiterste temperature het oor die afgelope vier dekades met 10% toegeneem.”

Volgens Schlettwein veroorsaak klimaatsverandering stygende temperature en verhoogde wisselvallige reënval in Afrika, wat reeds die beskikbaarheid van waterhulpbronne beïnvloed.

In baie gebiede neem oppervlakwaterbronne af, wat veral kwesbaar is vir klimaatsverandering en besoedeling.

Hy het die algehele verandering in gemiddelde temperature, herhaalde en gereelde droogtes en verwoestende vloede in dele van die land uitgesonder as bewyse van hoe klimaatsverandering die land raak.

“Besighede en die ekonomie in die algemeen voel reeds die impak, maar die kwesbaarste is gemeenskappe wie se lewensbestaan op natuurlike hulpbronne gebaseer is en wat bestaansboerdery insluit.”

Schlettwein het gemaan dit is noodsaaklik dat Namibië die toenemende druk op sy varswaterbronne bestuur.

Uitdagings sluit in watergehalte en -infrastruktuur wat verswak, beperkte tegnologiese kapasiteit en gedeeltelike belegging in die waterbedryf, asook die implementering van verwante beleidsrigtings en strategieë. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!