Reën se vreugde en verdriet

Opgaardamme 'n gesamentlike invloei van byna 50 000 kubieke meter water
Die Hardapdam het die grootste invloei gehad, terwyl sowat 1 200 inwoners in Windhoek se huise in Windhoek deur kitsvloede beskadig of verwoes is.
Augetto Graig
Met mens en dier wat die afgelope paar dae gejuig het oor swaar neerslae wat welkome verligting in veral droogtegeteisterde gebiede gebring het, was die vol reënmeters ook ‘n tweesnydende swaard. Op Mariental jubel inwoners en veral boere by die Hardapskema oor die Hardapdam se vlak wat van 5,5% tot 14,8% gestyg het - die hoogste positiewe invloei van 27,419 miljoen kubieke meter water - terwyl kitsvloede in Windhoek die lewens van 1 200 inwoners van die hoofstad erg nadelig geraak het. Die negatiewe was verskeie huise wat in die hoofstad verwoes en beskadig is, terwyl die positiewe kant van die munt vir inwoners is dat die Von Bachdam wat die stad van water voorsien, se vlak tot 23,5% gestyg het.

In totaal het die land se opgaardamme ná die goeie neerslae volgens Namwater se jongste dambulletin gesamentlike invloei van 49,605 kubieke meter water gehad, ‘n beduidende stap tot die verbeterde beskikbaarheid van water in een van die ergste droogtes wat die land die afgelope paar jaar ervaar.

Saterdag se kitsvloede in Windhoek het inwoners in die Havana- en Otjomuise-nedersettings die ergste geraak en in veral in Matshitshi-, Mersin- en Ganzistraat. Volgens Stad Windhoek se woordvoerder Lydia Amutenya is 282 huishoudings en 1 189 inwoners deur die vloede geraak, terwyl agt huise weggespoel het. Die stadsraadslid van die Landless People’s Movement (LPM) het Sondag saam met munisipale beamptes en lede van die Windhoekse stadspolisie die gebiede in die hoofstad besoek wat die swaarste getref is.

“Wat ons teëgekom het, is baie ontstellend en ernstig in terme van die kitsvloedsituasie,” het hy op sosiale media gesê. Agter die polisiestasie in Otjomuise het verskeie huise oorstroom. Volgens 'n voorlopige ondersoek deur die munisipaliteit se noodbestuurspan is die natuurlike vloei van die water deur ou motorbande versper, wat veroorsaak het dat die water opgehoop het. Ook het verskeie verstopte stormkanale in Eneas Peter Nanyembastraat in padkonstruksiesones veroorsaak dat nabygeleë huise oorstroom het. Verskeie voertuie is ook deur die watermassa meegesleur.

Skrywer het voorgestel dat families wat haweloos gelaat is, so gou as moontlik by Plaas 508 agter Okabale in die hoofstad gehuisves word. Amutenya het egter gister gesê die munisipaliteit kyk ook na Goreangab vir plek om die betrokke huishoudings tydelik te hervestig.

“Stad Windhoek neem onmiddellike stappe om die geraakte inwoners by te staan en verdere oorstromings te voorkom,” het Amutenya gesê. Voorsiening word onder meer gemaak vir die verskuiwing van die betrokke huishoudings na hoër, veiliger grond.

“Tydelike skuilings in die vorm van tente sal saam met kospakkies aan die betrokkenes voorsien word. Pogings om rivierbeddings skoon te maak om toekomstige oorstromingsrisiko’s te verminder, is ook onderweg.” Volgens Amutenya is van die betrokke huishoudings wat voorheen oorstroom is, ook tydelik verskuif. Tog is daar steeds inwoners wat hul huise oprig in gebiede wat as onveilig identifiseer is, het sy gesê. Intussen het die kantoor van die eerste minister gesê die regering ondersteun die Windhoekse munisipaliteit se reaksie op die kitsvloede. Kospakkies is gisternamiddag by Dar Es Salaamstraat naby Sewende Laan uitgedeel.

“Die regering doen 'n beroep op alle burgers om vroeë waarskuwings oor die omvang van reën en die bedreiging en oorstromings wat dit inhou, ernstig op te neem en die odige voorsorgmaatreëls te tref om verliese van lewens en eiendomme te verhoed,” aldus die kantoor van die eerste minister. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer