Sonstorm sorg vir rooiste mooi
Dié mooiste rooi skakerings van die Suiderlig of Aurora Australis is skuins teen middernag Vrydag deur Evelyn Yeo, ‘n besoeker uit Singapoer aan Namibië by die Etosha Nasionale Park geneem. Die aurora is veroorsaak deur ‘n “hewige” G5 geomagnetiese storm wat die aarde Vrydag bereik het ná verskeie dae van sonaktiwiteit wat verskeie ontploffings van plasma en magnetiese velde (CME) na die aarde gestuur het. G5 is die sterkste vlak van ‘n geomagnetiese storm op ‘n skaal van G1 tot G5. Dié storms word veroorsaak deur gelaaide deeltjies van die son, met die aurora wat sigbaar is wanneer klein partikels van die son met ‘n elektriese lading die atmosfeer tref. In die Noordelike Halfrond verskyn die Noordelig of die aurora borealis. Op laer breedtegrade is rooi auroras meer algemeen omdat rooi op hoër hoogtes voorkom en verder weg van die Pole gesien kan word. Die laaste G5 het die Halloween Storms in Oktober 2003 veroorsaak, met die kragtigste storm wat in die geskiedenis aangeteken is wat in September 1859 voorgekom het. Dit staan bekend as die Carrington Event en is vernoem na die Britse sterrekundige Richard Carrington. ‘n Hewige G5-storm is uiters skaars en kom gemiddeld vir vier dae elke 11 jaar voor en kan kommunikasie op die aarde erg deurmekaar krap en onder meer tot kragonderbrekings lei.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie