Willem den Hartog het die afgelope Vrydag die pragfoto van reënwolke uit die vliegtuig naby die Hosea Kutako-lughawe geneëm.
Willem den Hartog het die afgelope Vrydag die pragfoto van reënwolke uit die vliegtuig naby die Hosea Kutako-lughawe geneëm.

‘Verligting’ kom glo vir sopnat Noorde

Reënweer maak plek vir sonskyn
Onweerstoestande oor die noordelike dele van die land sal vanaf môre begin plek maak vir meer sonnige weer tot volgende week Dinsdag.
Elvira Hattingh
Terwyl verspreide tot wydverspreide donderbuie nog vir vandag oor die Otjozondjupa- en Omahekestreek verwag word, is daar ’n “bietjie verligting” op pad vir die noordelike gebiede in die land, waar swaar reën oor die afgelope weke voorgekom het

Die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, Richard Nashikaku, sê onweerstoestande oor die noordelike dele van die land sal vanaf Donderdag begin plek maak vir meer sonnige weer tot volgende week Dinsdag, wanneer ’n afsny-laagdrukstelsel weer sy opwagting sal maak.

Intussen moet Namibiërs hulle ook regmaak vir bloedige warm weer wat oor die naweek kan intree.

“Vanaf vandag [8 Feb] sal droë lug inbeweeg vanaf die noordweste oor die Kunenestreek asook oor die sentrale noordelike dele – die Oshana-, Ohangwena- en dele van die Oshikotostreek. Dieselfde sal oor die verre suidweste gebeur,” het Nashikaku aan Republikein gesê.

“Vanaf môre [Donderdag] sal dit begin warmer raak soos die huidige onweerstelsel meer noordoos beweeg. Dan sal donderstorms tot die Kavango-Wes-, Kavango-Oos- en Zambezistreek, maar ook die oostelike dele van die Otjozondjupa- en Omahekestreek beperk wees,” het hy verduidelik.

HITTE OP PAD

“’n Hoëdrukstelsel wat aanvanklik oor Botswana geleë was, begin nou ooswaarts beweeg. Droë lug sal vanaf Vrydag die Namibiese binneland binnevloei.

“Tydens die komende naweek sal daar by tye gedeeltelik bewolkte weer oor die binneland wees, maar daar word nie reën verwag nie.

“Temperature sal intussen warmer raak en kan teen die naweek selfs bloedig warm in die noordelike asook suidelike dele van die land wees. In die hoofstad sal die temperature tussen 30 °C en 35 °C wees, terwyl die noorde se temperature tot so hoog as 34 °C tot 37 °C kan styg en die suide tussen 33 °C en 36 °C,” sê Nashikaku.

“Toestande vir reën kan egter vanaf Dinsdag begin verbeter, wanneer ’n afsny-laagdrukstelsel opnuut sal ontwikkel.”

“Dit kan weer eens reën bring wat in die noordooste begin en afbeweeg na die sentrale noordelike gebiede asook die Khomas-gebied teen volgende week Woensdag of Donderdag,” het hy gesê.

REëNSYFERS

Dit volg nadat daar gisteroggend om 08:00 82 mm reën op die plaas Danigas oos van Rehoboth gemeet is, 50 mm in die Olifantberge in die Otavi-omgewing en 49 mm op Rehoboth self – volgens die weerkantoor se amptelike reënsyfers.

By die Etosha Nasionale Park se oostelike hek – die Von Lindequist-hek – het dit 48,5 mm gereën.

Op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako is 37 mm reën gemeet, 36 mm op Otjiwarongo en 34 mm op Grootfontein se lughawe.

Die nieregeringsorganisasie LandWater het op sy Twitter-blad gesê hy verwag goeie reën in die tweede helfte van Februarie.

WEIDING

Dit is goeie nuus nadat satellietdata op 31 Januarie – net sowat ’n week gelede – aangedui het dat plantegroei oor die grootste dele van die land nog ondergemiddeld tot gemiddeld was, alhoewel dit al sedert Desember verbeter het.

“As die res van die reënseisoen egter goed is, sal weidingstoestande na verwagting positief reageer. Tog is die oeste op droëlande reeds negatief geraak,” het die weidingspesialis, dr. Cornelis van der Waal, in ’n verslag vroeër vandeesweek gesê.

Volgens hom sluit die dele wat nog steeds ondergemiddelde weidingstoestande het, die Hardap- en ||Kharasstreek, westelike Omaheke- en die Ohangwenastreek asook dele van die Kunene-, Oshikoto- en Otjozondjupastreek in.

Gebiede wat nou beter daaraan toe is, sluit die sentrale, noordsentrale en noordwestelike dele van Namibië in, terwyl die Zambezistreek asook die oostelike dele van die Hardap- en ||Kharasstreek ietwat agteruit gegaan het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer