Weerwaak van swaar storms geld tot Saterdag
Die Meteorologiese Diens van Namibië het ’n weerwaak uitgereik vir matige tot swaar donderstorms en moontlike kitsvloede wat tot Saterdag 1 Maart in die streke van Khomas, Otjozondjupa, Omaheke en Hardap kan voorkom.
Die Omatakodam het ’n aansienlike toename in invloei gehad en staan nou op 24,8%. Die dam se volume het sedert die jongste dambulletin van NamWater met 2,524 miljoen kubieke meter gestyg. Verlede jaar die ooreenstemmende tydperk was die dam slegs 1% vol en tot onlangs nog dolleeg.
“Hierdie toename is ’n welkome hupstoot vir die sentrale gebied van Namibië, wat sterk staatmaak op die geïntegreerde watervoorsieningstelsel,” het NamWater se woordvoerder, Lot Ndamanomhata, in ’n verklaring gesê.
Die Swakoppoortdam is nou 33,5% vol met water wat tydens die afgelope week met onderbrekings na die Von Bachdam oorgepomp is wat nou 27,3% vol is.
Daar was nóg stygings in die watervlakke van die damme van Friedenau, Neckartal, Naute en in die Ooste se Otjivero-hoof en -slikdam.
Die Friedenaudam wes van Windhoek het ook invloei van 0,014 miljoen kubieke meter gehad wat nou 46,8% vol is teenoor verlede week se 46,6%.
In die Ooste het die Otjivero-hoofdam invloei van 0,116 miljoen kubieke meter water gehad en die Otjivero-slikdam 0,153 miljoen kubieke meter, wat help met waterbeskikbaarheid in die Gobabis-distrik. Gobabis se damme se gesamentlike vlak staan nou op net 3,6%, ten minste voller as verlede jaar se 3,1% die ooreenstemmende tyd. Die Tilda Viljoendam is steeds dolleeg en die Daan Viljoendam se vlak staan op 10,2%
In die Suide ontvang die Neckartaldam, Namibië se grootste dam, steeds goeie invloei met ’n toename van 0,728 miljoen kubieke meter, wat sy huidige vlak op 81,2% te staan bring.
Die Nautedam, nog ’n kritieke waterbron in die suidelike streek, het ook ’n toename van 1,484 miljoen kubieke meter gehad, wat 33,7% van sy volle kapasiteit bereik het. Verlede jaar het sy damvlak op 41,7% gestaan.
Die Hardapdam staan nou op 23,2% nadat ’n verlies van 2,130 kubieke miljoen kubieke meter plaasgevind het nadat besproeiingskrane weer oopgedraai is. Verlede jaar was die dam 14,3% vol.
Die Oanobdam by Rehoboth is ook leër as verlede jaar se vlak van 44% en staan nou op 33,2%.
Gesamentlik is damme in Namibië se vlak van 56,5% tans net-net voller as die ooreenstemmende tyd verlede jaar van 56,2%.
LIEFLIKE REëN
Maandag en Dinsdag het wydverspreide buie in die sentrale dele, noorde, noordooste, ooste en noordweste van die land in die omgewing van Outjo, Omaruru, Kalkfeld, Karibib en Usakos voorgekom.
Die Khanrivier by Usakos het geloop, asook die Omarururivier.
Op die plaas Tsuwandis tussen Outjo en Khorixas is Maandag 100 mm gemeet.
Op die plaas Eden oos van Kalkrand is tussen 22 mm en 70 mm Dinsdag uit die reënmeter gegooi en selfs in die Kalahari is buie van tot 40 mm aangemeld en 23 mm op Aranos.
In die buurland Botswana het die Gaboronedam Maandagmiddag oorgeloop op ’n vlak van 105,11% toe die riviere van Notwane, Metsimaswaane en Tloaneng sterk in die dam ingevloei het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie