Wydverspreide donderbuie verwag

Damme gesamentlik al voller as in 2024
Die kus kan ook erge buie tot donderbuie verwag.
Francoise Steynberg
Wydverspreide donderbuie word voorspel met sewe damme wat weer volgens NamWater se jongste dambulletin invloei gekry het.

Volgens ’n weerwaak van die Namibië Meteorologiese Dienste sal wydverspreide donderbuie oor die binneland voortduur met oorstromings wat sal plaasvind.

Selfs die kus kan buie en donderbuie verwag met inwoners van die streke van Erongo en Khomas wat hulle gereed kan maak vir “’n erge impak”.

In die streke van Kavango-Oos en Zambezi sal dit warm en gedeeltelik bewolk wees met enkele donderbuie wat kan voorkom.

Namibiese damme se gesamentlike watervlak staan nou op 58,9%, voller as verlede jaar se 55% die ooreenstemmende tydperk.

Die Hardapdam het gisteroggend op 27,5% gestaan nadat dit oornag invloei van 0,367 miljoen kubieke meter water gehad het. Volgens berigte was nóg water gister op pad Hardap toe.

Ook in die Suide het die Nautedam sy halfpadmerk bereik teen 50,1% met invloei van 4,924 miljoen kubieke meter.

Die Swakoppoort- en Von Bachdam is albei al byna 40% vol. Von Bach het vanaf 35,3% tot 39,4% gestyg nadat dit 1,933 miljoen kubieke meter water ontvang het. Swakoppoort is 39,9% vol vanaf verlede week se 37,5%, met ’n invloei van 1,494 miljoen kubieke meter.

Die Friedenaudam oos van Windhoek het vanaf 45,8% tot 46,9%, gestyg ná invloei van 0,071 miljoen kubieke meter.

In die Ooste bly gesamentlike damvlakke laag teen 3%, maar die Otjivero-hoofdam het geringe invloei van 0,020 miljoen kubieke meter gehad met sy vlak nou op 3,5%, teenoor verlede week se 3,3%.

Verlede jaar was gesamentlike Ooste-damvlakke 3,6%.

In die Noorde het Olushandjadam vanaf 53,7% na 61,2% van sy volle kapasiteit gestyg ná invloei van 3,426 miljoen kubieke meter water.



RIVIERVLAKKE

Volgens die Hidrologiese Vereniging van Namibië styg die watervlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo vinnig.

Dit het van 3,45 m Saterdag tot 3,68 m gisteroggend gestyg. Dit is hoër as die 1,48 meter wat verlede jaar dieselfde tyd aangeteken is.

Die watervlak van die Kavangorivier by Rundu het van 5,95 m Saterdag tot 5,87 m gister gedaal. Dit bly egter hoër as die 5,38 m wat verlede jaar dieselfde tyd aangeteken is.

Die Kunenerivier by Ruacana het gisteroggend vloei van 313,10 kubieke meter per sekonde aangeteken.

In die Oranjerivier het die watervlakke by Blouputs en Sendelingsdrift gisteroggend op onderskeidelik 1,29 m en 0,74 m gestaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer