• Tuisblad
  • Weer
  • Wydverspreide donderstorms vir vandag voorspel
In die verre noorde tussen Ruacana en Outapi het 65 mm in die omgewing van die Olushandjadam uitgesak. Foto Facebook/Anne-Marie Marais
In die verre noorde tussen Ruacana en Outapi het 65 mm in die omgewing van die Olushandjadam uitgesak. Foto Facebook/Anne-Marie Marais

Wydverspreide donderstorms vir vandag voorspel

Kitsvloede kan voorkom
Alhoewel drie damme die afgelope week invloei gehad het, bly damvlakke kommerwekkend laag.
Francoise Steynberg
’n Swaar donderstorm het Windhoek gisternamiddag getref wat voertuie laat wegspoel en strate oorstroom het.

Die Meteorologiese Diens van Namibië maan dat kitsvloede vandag plek-plek kan voorkom met matige tot wydverspreide donderstorms wat vandag in die sentrale en noordwestelike dele verwag kan word, asook in die streke van Otjozondjupa en Khomas.

In die Otavi-vallei is gisteroggend 80 mm uit die reënmeter gegooi en op die plaas Hohental in die distrik 65 mm. Op die dorp het 52 mm gereën en by Kombat is 55 mm gemeet.

Ook in die Mieliedriehoek het Grootfontein 14 mm gehad en Tsumeb-lughawe 4,5 mm.

Die Etosha Nasionale Park spog ook met goeie neerslae met Halali wat 60,5 mm ontvang het, Okaukuejo 26,5 mm, Ombika 23 mm en Von Lindequist-hek 5,5 mm.

In die Outjo-distrik het die plaas Belalaika 20 mm ontvang, asook plase sowat 70 km buite Outjo in die rigting van Khorixas en die dorp het 14 mm gehad.

Otjiwarongo het 12 mm ontvang en plase in die distrik tot 28 mm.

Sowat 35 km oos van Omaruru is 9 mm gemeet. Wes van Okahandja op die Karibib-pad het 17 mm geval en verder weswaarts het Karibib en Usakos 4 mm elk ontvang.

In die verre noorde by die Olushandjadam tussen Ruacana en Outapi het 65 mm uitgesak. Dié dam se vlak staan nou op 38,1% teenoor verlede jaar se vlak van 43,4%.

In die noordooste het die Zambezi-beroepsopleidingsentrum 30 mm gehad, Katima Mulilo 24 mm, Nkasa Rupara Nasionale Park 13 mm en Caprivi River Lodge 9 mm.

In die dorre suide op die plaas Stokkiesdraai by die Swartrante in die omgewing van Maltahöhe het ’n welkome 11 mm uitgesak en op die dorp 10 mm.

In die hoofstad is tot 25 mm gemeet.



DAMVLAKKE

Drie damme in die land, Friedenau, Neckartal en Oanob het die afgelope week merkbare stygings in watervlakke aangeteken.

Volgens die jongste weeklikse damverslag van NamWater het die Neckartaldam ’n toename van 0,728 miljoen kubieke meter (Mm³) ervaar, met sy vlak nou op 79,8%. Die Oanobdam het ’n styging van 0,319 Mm³ gehad, wat nou 32,9% vol is. Die Friedenaudam het ’n invloei van 0,047 miljoen kubieke meter aangeteken, wat sy huidige kapasiteit op 46,1% te staan bring.

Damme in die land is gesamentlik 52,4% vol teenoor verlede jaar se 57,4%. Damme wat die sentrale dele van water voorsien is slegs 18,8% vol met die Swakoppoortdam wat 24,3% vol is, die Von Bachdam wat op 24,6% staan en die Omatakodam wat slegs 4,4% vol is. Water word steeds vanaf die noordelike bronne na die Von Bachdam oorgepomp, maar nie meer vanaf Swakoppoort nie.

Damme in die Ooste se gesamentlike vlakke is steeds kommerwekkend laag teen 1,6%, met die Daan Viljoendam wat slegs 10,2% vol is en Tilda Viljoen in Gobabis wat dolleeg is.

In die Suide staan die Hardapdam se vlak op 14,8% en die Nautedam is 27% vol teenoor verlede jaar se vlak van 44%.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer