Die ruimte wink

Agentskap nodig om beleid te vergemaklik
Terwyl die ruimtewedloop wêreldwyd volstoom aan die gang is en satelliete wat in die ruimte afgevuur word, daagliks toeneem, sukkel Namibië om by te hou.
Augetto Graig
Namibië het verlede jaar sy eerste beleid oor ruimtewetenskap en -tegnologie bekend gemaak wat tot 2029-’30 van toepassing is.

Die beleid se fokus is om die plaaslike bevolking te bevoordeel uit ontwikkelings wat met ruimtewetenskap en -tegnologie verband hou.

Soos talle lande in Afrika is Namibië glad nie ’n mededinger in die nuwe ruimtewedloop wat, soos in die dae van die Koue Oorlog, spoedig versnel nie.

China het reeds op 29 Junie ’n volledige kaart van Mars met hul Tianwen-1-ruimtetuig – wat uit ’n wenteltuig en die Zhurong-verkenningstuig bestaan – bekend gestel.

Met Amerika wat reeds volgens space.skyrocket.de tans die oorgrote meerderheid lanserings (47 teen 18 September 2022) aangeteken het, is China vanjaar steeds in die tweede plek met 31 en Rusland derde met 12.

Suid-Korea het op 4 Augustus sy eerste sending na die maan gestuur. Volgens die webwerf was daar vanjaar reeds ses vuurpyllanserings in Nieu-Seeland, twee in Indië, twee in Europa en een in Iran.

Teen die begin van hierdie week is 102 vuurpyle reeds die lug ingevuur om wentelbaanhoogte te bereik. Dit blyk asof die wêreld verlede jaar se rekordvuurpyllanserings van 135 kan verbysteek. Die vorige rekordjaar was in 1984 toe 129 vuurpyle gelanseer is.

’n Merkwaardige verandering is die onlangse toenemende oorheersing van private maatskappy wat tot die ruimtewedloop toetree en met invloedryke regerings wêreldwyd meeding.

Die miljardêr Elon Musk se SpaceX het met sy tegnologie om vuurpyle veilig te laat land én te hergebruik, ’n voorloper in die resies na die ruimte geword.

Voorbereidings vir die lansering van die reuse, herbruikbare Starship-ruimtetuig hou talle mense vasgenael voor regstreekse uitsendings vanaf suidelike Texas. Dit ná Amerika se federale kommunikasiekommissie (FCC) ’n lanseringstydperk van ses maande vanaf 1 September goedgekeur het.

Starship sal na verwagting mense terug maan toe neem, vrag na die ruimte vervoer en uiteindelik Musk se strewe om Mars toe te gaan moontlik maak. Dit sal ook satelliete na wentelbane neem, soos Space X se Falcon 9-vuurpyle.

Musk se ander maatskappy, Starlink, plaas ’n satelliet-konstellasie in ’n lae wentelbaan om die aarde om ’n hoëspoed-internetdiens aan die wêreld te lewer.

Die satelliete word in groot hoeveelhede vervaardig en bedien reeds talle ontwikkelde lande, hoewel die koste daaraan verbonde steeds die meerderheid Namibiërs uitsluit.

Dít volgens die Nasionale Kommissie vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST), se hoofwetenskaplike vir natuurlike wetenskapnavorsing, mnr. Sepo Fortune Kamwayamunzi, en mnr. Ebenhezer Kauhonina, hoofprogrambeampte vir beleid en programme. Die NCRST is verantwoordelik vir die implementering van die land se nuwe ruimtebeleid.

“Tensy daar ’n aanpassing in pryse vir lande soos Namibië sal wees, sal Starlink-internetdienste duur bly vir dié wat tans nie deur ander breëbandverbindings soos vesel of DSL gedek word nie. Die maandelikse intekenfooi vir Starlink-dienste is US$110 (N$1 830) en die toerusting kos ’n eenmalige bedrag van ongeveer US$599 (N$9 967,36). Die prys is in hierdie stadium buite menigte Namibiërs se bereik, maar sal dalk in die toekoms aansienlik daal en vir die meerderheid bekostigbaar word,” het die twee kenners op navraag gesê.

Nietemin kan voordeel uit die toename in satelliete in wentelbane getrek word, veral omdat Namibië so groot is en vir baie geïsoleerde gemeenskappe ’n tuiste is, sê hulle.

“Beter en goedkoper internet kan ook meer doeltreffende ekonomiese aktiwiteite beteken, veral vir diegene wat in geo-inligting en kommunikasietegnologie betrokke is. Namibië ontvang tans nie internetdienste vanaf Starlink-satelliete nie, maar met Starlink se visie om wêreldwyd goedkoop en vinnige internet te verskaf, kan Namibië in die nabye toekoms daarby baat,” meen die kenners.

“Aan die ander kant - aangesien dit lae-wentelbaansatelliete is - om vinniger internetverbinding te kan verskaf, het ’n mens baie daarvan nodig om globale dekking te verseker. Dit is wat gelei het tot die onlangse vinnige toename in ruimtevoorwerpe,” waarsku die kenners.

“Mens moet ook bewus wees van die kwessie van ruimterommel wat oral val, en dit kan gevaar of lewensverlies op aarde veroorsaak,” sê hulle.

“Mense het op 4 Oktober 1957 die ruimte begin verken toe die Sowjetunie Sputnik, die eerste kunsmatige satelliet, in ’n wentelbaan om die aarde gelanseer het. Sedertdien het ruimteverkenning groot geleenthede vir die mensdom geskep. Nuwe toepassings het gerealiseer soos navigasietoepassings, afstandswaarneming, kommunikasiesatelliete, ruimtereise en vele ander,” volgens die kenners.

Namibië se bydrae tot die verkenning van die heelal is deur middel van grondstasies en teleskope, en kan toegeskryf word aan die donker aande wat hier ervaar word - onbelemmer deur te veel lig.

Namibië is onder meer die tuiste van China se opsporingstasie in Swakopmund, waarmee dié land kommunikasie met sy satelliete behou. Die hoë-energie stereoskopiese stelsel (HESS) in die Khomas Hochland is nog ’n installasie wat die sterre waarneem.

HESS is uniek met sy vyf Cherenkov-teleskope wat spieëls gebruik om prentjies van hoë energiebronne in die diepste ruimte saam te stel.

Die stelsel is egter baie sensitief vir lig en volgens Kauhonina sal ’n skerp lig vanaf ’n mensgemaakte voorwerp soos ’n satelliet die stelsel dwing om af te sit en te herset. Met meer en meer satelliete in die ruimte sal grondstelsels soos HESS beïnvloed word, sê die kenners.

Astronomiese waarneming soos by HESS vereis algehele donkerte om doeltreffend te wees, brei hulle uit, aangesien sterrekunde gemoeid is met die bestudering van sterre en ander bewegende voorwerpe in die ruimte. Te veel satelliete in die ruimte, veral die Space X-satelliete wat na ’n laer wentelbaan – naby die aarde – gelanseer word, is ’n nagmerrie vir astronomiese waarneming. Dit aangesien dié satelliete lig uitstraal, maar ook omdat dit moeilik raak om te onderskei tussen natuurlike en kunsmatige voorwerpe wat nie relevant vir sterrekunde is nie.

“Daarom is te veel satelliete nie goed vir waarneming soos HESS nie,” sê hulle.

“Ons is van mening dat Namibië negatief deur die nuwe ruimtewedloop geraak word, al voorsien satelliete in ’n basiese behoefte van die samelewing deur onder meer kommunikasie, weervoorspelling, mineraaleksplorasie en landkartering.

“Tog, soos meer en meer satelliete deur ontwikkelde lande gelanseer word, raak dit moeilik vir ontwikkelende lande om hul eie te lanseer weens monopolie en ander faktore. Meeste van die bruikbaarste wentelbane is byvoorbeeld reeds geneem, en dit raak moeilik om ’n satelliet te beheer tussen al die ander in die ruimte sonder om ’n ongeluk te veroorsaak,” skryf hulle.

“Elke land benodig sy eie satelliet aangesien satelliete deurslaggewend is om bruikbare data binne kort tydperke te skep.

Om afhanklik van ander lande se satelliete te wees, is ook nie raadsaam nie. Die rede hiervoor is as jou land sanksies in die gesig staar, is die eerste skrikwekkende scenario dat jou land van die netwerk van satelliete ontkoppel word.

As ons nie nou in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM)-vakke belê om die toekomstige generasie van ruimte-ingenieurs te kweek nie, sal ons vir altyd afhanklik wees van maatskappye soos SpaceX en die monopolieë wat sal kom, wat dit moeilik sal maak vir lande soos Namibië om ten volle aan die ruimtewedloop deel te neem. Die ruimtegaping tussen ryk en arm lande sal net al hoe groter word en ons sal dalk nooit sulke gapings kan toemaak nie,” sê die kenners.

“Ruimtetegnologie is ingewikkeld en duur en vereis reusebeleggings en ’n geskoolde arbeidsmag, ingenieurs en tegnici. Namibië het eers in Junie 2021 sy eerste ruimtewetenskap- en -tegnologiebeleid bekend gestel,” sê hulle.

“Programme vir satellietontwikkeling kan tussen 5 en 10 jaar neem om hul eerste lansering te sien. In Namibië se geval het ons nie die tegniese kapasiteit en kennis om die tegnologieë te ontwikkel wat nodig is vir ruimteverkenning nie.

“Die faktore wat ons kniehalter, is onder meer min navorsing en ontwikkeling in ruimtewetenskap en -tegnologie, min of geen infrastruktuur, en ’n teleurstellende klein begroting vir navorsing en ontwikkeling in die algemeen,” sê hulle.

Die NCRST pas die nuwe beleid wat deur die ministerie van hoër onderwys, tegnologie en vernuwing ontwikkel is, sterk toe, sê die bestuurder van die natuurwetenskap-navorsingsafdeling van die kommissie, me. Hilya Shikongo. Sy sê die NCRST besoek burgers landswyd om die beleid aan hulle bekend te stel.

By ’n satellietontwikkelingsgeleentheid wat die ministerie op 10 Julie aangebied het, het dr. Lisho Mundia, direkteur van navorsing en ontwikkeling, ’n beroep vir die spoedige stigting van ’n regeringsagentskap vir ruimtewetenskap en -tegnologie gedoen.

“Ons geniet nie die volle voordele van ruimtetegnologie en -wetenskap nie. Rolspelers, inhoud, pligte en tegnologie moet gedefinieer word, maar ons as ’n land is steeds net op regeringsvlak besig,” het hy gesê.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie, dr. Alfred van Kent, het ook gesê ’n beter begrip van ruimtewetenskap en -tegnologie is nodig om dit tot Namibiërs se voordeel te gebruik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!