In die middel van die Melkweg . . .

AMT bring groot geleenthede vir Namibië
Terwyl sterrekundiges vir die eerste keer die gravitasiekolk in die middel van ons eie galaksie kon afneem, het Namibië pas 'n mobiele planetarium gekry.
Yolanda Nel
’n Supermassiewe gravitasiekolk in die middel van die Melkweg is vroeg in Mei vir die eerste keer afgeneem nadat wetenskaplikes dié ingeplofte ster sedert 2017 nagevors het.

Die swartkolk in die middel van ons galaksie staan as die Sagittarius A-ster (Sgr A*) bekend en is 4 miljoen keer die grootte van die son.

Die saamgestelde foto is deur die Event Horizon Telescope (EHT) geneem - 'n wêreldwye netwerk van gesinchroniseerde radio-sterrewagte wat saamwerk om radioseine, wat met gravitasiekolke vereenselwig word, af te neem.

Dit is die EHT se tweede foto van ’n gravitasiekolk, nadat dit die eerste een in 2019 vrygestel is. Die eerste foto is geneem van 'n reuse-swartkolk in die middel van die M87-galaksie.

Wetenskaplikes is reeds besig om die fisika te ontleed - en tot dusver stem dit ooreen met dié van die teoretiese fisikus Albert Einstein, soos hy sy swaartekragteorie van algemene relatiwiteit uiteengesit het.

ONSIGBAAR

Volgens Xavier Barcons, direkteur-generaal van die Europese Suidelike Sterrewag (ESO), het wetenskaplikes voorheen waargeneem dat sterre rondom iets onsigbaars, kompak en massief in die middel van die Melkweg wentel.

Hoewel ‘n swartkolk nie met die blote oog gesien kan word nie, aangesien dit donker is, verklap die gloeiende gas rondom die kolk dikwels die bestaan daarvan.

Die gravitasiekolk vorm 'n donker sentrale gebied, omring deur ’n helder, ringagtige struktuur. Die saamgestelde foto vang lig vas wat deur die gravitasiekolk se kragtige swaartekrag gebuig word.

Sgr A* is sowat 27 000 ligjare van die aarde af en vertoon van hier af kompleet soos ’n oliebol op die maan.

Om dit af te neem, is die EHT ingespan, waar agt radiosterrewagte oraloor die planeet saamwerk om 'n enkele virtuele teleskoop – so groot soos die aarde – te vorm. Die EHT het op verskillende geleenthede in 2017 die Sgr A* waargeneem en data ingesamel.

ONTLEDING

Altesaam 300 navorsers van 80 institute oraloor die wêreld, wat deel van die EHT Collaboration vorm, het dié bevinding moontlik gemaak.

Benewens die ontwikkeling van ingewikkelde gereedskap om die uitdagings van die beeldvorming van Sgr A* te oorkom, het die span vir vyf jaar hard gewerk en superrekenaars gebruik om hul data te kombineer en te ontleed. Dit, terwyl hulle 'n biblioteek van gesimuleerde swartkolke saamgestel het om die waarnemings te vergelyk.

Wetenskaplikes is opgewonde om uiteindelik foto’s van twee gravitasiekolke van verskillende groottes te hê, omdat hulle dit nou met mekaar kan vergelyk.

Die wetenskaplikes het begin om die nuwe data te gebruik om teorieë en modelle te toets van hoe gas rondom reuse- swartkolke beweeg.

Dié proses word nog nie ten volle verstaan nie, maar die vermoede bestaan dat dit 'n sleutelrol in die vorming en evolusie van sterrestelsels speel.

AMT

Om verdere wetenskaplike waarnemings oor die langtermyn te verseker, is 'n millimetergolf-radioteleskoop in egter Afrika nodig.

Dienooreenkomstig werk sterrekundiges van die Radboud Universiteit (RU) saam met die Universiteit van Namibië (Unam) om so 'n teleskoop, die beplande Africa Millimetre Telescope (AMT), te laat realiseer.

Die spanne poog om 'n 15 m-enkelskottel-radioteleskoop op Gamsberg op te stel en sodoende ‘n noodsaaklike skakel aan die EHT te voorsien.

Volgens dr. Marc Klein Wolt, besturende direkteur by die Radboud RadioLab en AMT-projekdirekteur van die RU in Nederland, sal die AMT, benewens 'n noodsaaklike skakel in die EHT-netwerk, die enigste radioteleskoop in die mm-golflengte in Afrika wees.

“Dit bied unieke wetenskaplike geleenthede vir Namibië. Die ontwikkeling se maatskaplike en ekonomiese impak word versterk deur die ontwikkeling van ’n onderwys- en uitreikprogram, asook die bevordering van innovasie in Namibië,” het hy gesê.

Deur 80% van die waarnemingstyd aan Namibië te skenk, probeer die projekspan die impak wat die AMT op die land het, maksimaliseer.

Op ’n vraag waarom spesifiek Namibië gekies is vir die AMT om opgerig te word en nie ’n land meer noord nie, het Wolt verduidelik dat Namibië die perfekte weerstoestande sowel as die platste oppervlak in die Gamsberg-omgewing het.

"Ons benodig 'n gebied wat oor die algemeen droog is, met 'n plat oppervlakte," het hy gesê.

Terwyl die Gamsberg-gebied hul eerste keuse is, word die gebied in die Khomas Hochland, waar die hoë-energie stereoskopiese stelsel (Hess) reeds gebou is, ook oorweeg.

“Om toegang tot Gamsberg se berge te verkry, sal paaie gebou moet word en ná die reën, soos wat Namibië vroeër vanjaar gehad het, is die oorspronklike pad ontoeganklik,” het hy gesê.

Wolt wil graag hê die projek moet binne die volgende twee jaar begin. “Voor ons kan begin, sal ons die teleskoop wat tans in Chili is en nie meer gebruik word nie, moet opknap. Dit sal ook tyd neem om dit in Namibië op te stel.”

Die span hoop dat dit 'n positiewe maatskaplike en ekonomiese impak op Namibië sal hê.

Dit sal die weg vir Namibiese sterrekundiges na wêreldklas-wetenskap baan, waarvan die EHT gebruik maak, maar ook baie ander geleenthede bied.

Die AMT-projek sal 'n toegewyde opleidingsnetwerk en uitruilprogram vir Namibiese wetenskaplikes bied, terwyl Namibiërs ook ‘n groot rol in die konstruksie en instandhouding van die AMT sal speel.

MOBIELE PLANETARIUM

Boonop word 'n mobiele planetarium geïmplementeer as deel van die AMT-projek se opvoeding- en uitreikprogram. Dit word saam met toegewyde Namibiese vennote gedoen. Die doel is om die volgende generasie ingenieurs en wetenskaplikes op te lei en te betrek.

Die mobiele planetarium is reeds verlede week in die hoofstad bekend gestel en die doel is dat dit as inspirasie vir veral kinders van alle ouderdomme moet dien.

“Ons wil teruggee. Ons wil Namibië nalaat met iets merkwaardigs. As dit dalk vandag 'n klein kind kan inspireer om 'n wetenskaplike of sterrekundige te word, dan is my werk gedoen,” het Wolt gesê.

Die planetarium is 'n opblaaskoepel, wat dit maklik maak om te vervoer om meer skole en studente te bereik. Aan die binnekant van die koepel kan interaktiewe beelde van die naghemel geprojekteer word.

’n Mens kan na die aarde, die maan, son en planete daarin sien, asook ander sterre, sterrestelsels en interessante verskynsels.

Dit kan maklik by die ouderdom, kennis en belangstelling van die gehoor aangepas word, wat dit 'n ideale hulpmiddel vir skole maak. Die koepel is groot genoeg om 'n hele klas te akkommodeer, het sy eie kragtoevoer en is geskik vir die binne- en buitelug.

Wolt verwys na hierdie projek as 'n vuurtoringprojek.

“Mense is aangetrokke tot die projek. Hulle wil deel wees daarvan en hulle wil ’n bydrae lewer.”

Vir hom sal dit meer opleiding- en leergeleenthede beteken.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!