Planete, soos eende in ʼn ry
Die klassieke swerwersplanete – die sewe hemelliggame wat sonder ʼn teleskoop sigbaar is – sal vandeesmaand in die naghemel in ’n reguit lyn verskyn – ʼn seldsame gebeurtenis wat net een maal sowat elke 20 jaar voorkom.
Mercurius, Venus, Jupiter, Mars en Saturnus sal in ʼn lyn, in volgorde volgens hul afstand vanaf die son, sowat ʼn halfuur tot 'n uur vóór sonsopkoms vanaf 23 tot 25 Junie in die naghemel verskyn. Die feit dat hulle in hierdie presiese volgorde verskyn, maak die gebeurtenis nog meer uitsonderlik.
Die 24ste sal die beste geleentheid wees om die sogenaamde “groot planeetparade” te aanskou. Die son en die maan sal die sesde en sewende hemelliggame wees wat rofweg ʼn lyn met die bogenoemde vyf planete vorm.
Die son self sal tydens die gebeurtenis nog net-net onder die horison wees en sal die ander swerwersplanete uitdoof, soos dit opkom.
Nasa verduidelik alhoewel die planete Saturnus, Mars, Jupiter en Venus oor die afgelope maande reeds sigbaar in die oggendhemel is, het Mercurius eers onlangs – vanaf sowat 3 Junie – by hulle aangesluit.
Die klein planeet, wat meestal naby aan die son beweeg en dus baie min sigbaar is, maak tans teen dagbreek ʼn kortstondige verskyning bo die horison, voor dit deur die opkomende son “uitgewis” word.
PARADE
Die groot parade op 24 Junie is besonders, want die laaste keer toe vyf planete saam in ons naghemel verskyn het en boonop ʼn reguit lyn gevorm het, was in Desember 2004. Dit sal eers weer in 2040 voorkom.
Groot opgewondenheid heers oraloor die wêreld oor die gebeurtenis en die niewinsgewende organisasie Astronomers Without Borders beskou dit as een van hul top- naghemelgebeurtenisse vir 2022.
Terwyl dit nie ongewoon is om ʼn “mini planeetparade” (wanneer drie planete ons naghemel paradeer) te sien nie, is ʼn “klein parade”, wat die belyning van minstens vier planete vereis en ʼn “groot parade”, wat vyf tot ses planete behels, meer seldsaam.
‘n “Volle parade”, wat alle planete in ons sonnestelsel behels, is uiters skaars en neem biljoene jare om voor te kom.
Die planeetparades word ook ʼn appuls genoem.
’n Parade van ses planete gebeur glo net sowat elke 100 jaar. Die naaste wat al agt planete in ons sonnestelsel aan ’n belyning gaan kom, is op 6 Mei 2492. Die planete sal dan ook nie ’n reguit lyn vorm nie, maar eerder sáám in die naghemel verskyn.
Junie se “planeetparade” is egter op die meeste plekke oraloor die aarde te sien – behalwe vir die noord- en suidpoolgebied.
SWERWERS
TimeAndDate verduidelik dat die woord planeet oorspronklik van die Griekse-taal afkomstig is en eintlik “swerwer” beteken, wat vroeër gebruik is om hemelliggame in ons naghemel te onderskei van sterre wat oënskynlik stil staan.
Daar word ook verduidelik hoewel dit vanaf die aarde mag voorkom asof die swerwers ʼn bykans perfekte reguit lyn vorm, is dit eintlik net ʼn illusie omdat dieptepersepsie ontbreek.
Vanaf die ruimte gesien, sal die hemelliggame nooit werklik ʼn reguit lyn kan vorm nie, omdat elkeen op sy eie wentelbaan beweeg en hul askanteling te veel verskil.
Sou jy die sonnestelsel van bo af kon sien, sou dit voorkom asof die planete lukraak en toevallig almal aan die een kant van die son gestrooi is, verduidelik livescience.com.
Boonop word bygevoeg dat die invloed van die belyning van die planete op die aarde uiters gering is – nog minder as die uitwerking van die maan se swaartekrag op die aarde. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie